Hollywood: Dié akteur nou vriend van Poetin; Ed Sheeran stort hart uit

Ed Sheeran. (Foto: Attila Kisbenedek/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste vermaaknuus.

Ed Sheeran stort hart uit oor nuwe album

Die Britse sanger, Ed Sheeran, se vyfde album sal op 5 Mei vanjaar op die rakke wees en vertel die storie van sy uitdagings met “angs, depressie en vrees”.

Dié album sal sy wiskunde-era, wat ’n dekade gelede met “+” begin het, tot ’n einde bring.

In ’n verklaring wat die 32-jarige sanger uitgereik het, verduidelik hy dat hy die afgelope tien jaar al aan die album werk. Hy het al honderde liedjies geskryf en opgeneem om die beste moontlike album te kan uitreik.

Verskeie gebeurtenisse in 2022 het egter ’n reuse-uitwerking op sy geestesgesondheid en lewe gehad het.

“Dit het my lewe verander en op die ou end, ook die manier waarop ek musiek en kuns beskou,” het hy gesê.

“Om liedjies te skryf is vir my soos terapie. Dit help my om sin van my gevoelens te maak.”

Hy erken dat hy dikwels net neerpen wat uit sy gedagtes vloei sonder om te lank na te dink aan hoe die liedjie sal klink.

“En so het ek ’n dekade se liedjies met ’n week van my diepste en donkerste gedagtes vervang.”

Ed vertel dat ’n gewas by sy vrou, Cherry Seaborn, gedurende haar swangerskap met hul dogter, Jupiter, gediagnoseer is, en dat sy moes wag tot ná Jupiter se geboorte vir behandeling. Daarmee saam het sy beste vriend, Jamal, gesterf, en dit het sy geestesgesondheid bloot verder afgetakel.

“As ‘n kunstenaar, het ek nie gevoel dat ek op ’n geloofwaardige wyse werk kon uitgee wat nie die stand van my lewe tans akkuraat weerspieël nie.

“Hierdie album is die deur tot my siel. Vir die eerste keer maak ek nie ’n album gebaseer op wat mense van sal hou nie, maar op eerlikheid oor waar ek tans in my lewe verkeer.”

Dié akteur is nou vriend van Poetin

Wladimir Poetin het die Amerikaanse akteur, Steven Seagal, met ’n gesogte nuwe titel vereer.

Steven Seagal. (Foto: Steven Seagal/Facebook)

Volgens ’n verklaring uitgereik op Maandag 27 Februarie, het Poetin die 70-jarige akteur met ’n Orde van Vriendskap bedank vir sy werk om internasionale samewerking te verbeter.

Seagal was deur die jare heen ’n uitgesproke aanhanger van Poetin en is selfs in 2016 ere-Russiese burgerskap toegestaan. Hy was in Augustus 2022 in Oekraïne, en het onder meer die Olenivka-aanhoudingsentrum, waar talle Oekraïense gevangenes na bewering gesterf het, besoek.

Rex Tillerson, voormalige staatsekretaris van die VSA en uitvoerende hoof van ExxonMobil, en Gianni Infantino, FIFA se president, is ook al met die Russiese Orde van Vriendskap vereer.

Tom Cruise gesels oor Ubuntu

Tom Cruise is klaarblyklik beïndruk tydens die Suid-Afrikaanse draai wat hy in 2022 gemaak het.

Tom Cruise. (Foto: Robyn Beck/AFP)

Dié 60-jarige akteur het Suid-Afrikaners omtrent aan die gons gehad toe hy verlede jaar ’n fliek in Suid-Afrika geskiet het.

“Ek het nou net teruggekeer ná verfilming in Suid-Afrika. Dit is ’n beeldskone land met ’n pragtige filosofie – Ubuntu,” het Tom tydens sy aanvaardingstoespraak van die David O. Selznick-toekenning by die Vervaardigersgilde-toekenningsgeleentheid op 25 Februarie gesê.

“Ubuntu is die idee dat ‘mensdom’ gegrond is in meervoud, nie enkelvoud nie.”

Kyk na ’n video van die geleentheid hier.

Dié twee akteurs met Hollywood-sterre vereer

Courteney Cox en Michael B. Jordan is albei dié week met hul eie sterre op die beroemde Hollywood Walk of Fame-roete vereer.

Michael B. Jordan en Courteney Cox is met Hollywood-sterre verveer. (Foto’s: Facebook)

Courteney se Friends-medeaktrises, Jennifer Aniston en Lisa Kudrow, het haar tydens die geleentheid, wat Maandag plaasgevind het, vergesel.

Jennifer en Lisa het met lof oor Courteney se karakter en akteursvernuf gesels, terwyl sy hulle weer bedank het dat hulle vir haar opgedaag het “in die openbaar, nes hulle sou doen in privaat omstandighede.”

Michael het sy ster Woensdag ontvang. Hy is veral bekend vir sy rol in die Creed– en Black Panther-rolprente.

“Ek wil graag die liefde terugbewys en terselfdertyd net die oomblik inneem,” het die 36-jarige akteur, wat in 1999 vir die eerste keer sy toneespelvernuf ten toon gestel het, tydens die geleentheid gesê.

Kyk: Voorskou van Peter Pan & Wendy

Aanhangers van die geliefde karakters, Peter Pan en Wendy, kan hul vere regskud vir ’n splinternuwe Disney-fliek wat juis oor dié twee gunstelinge gaan. Peter Pan & Wendy sal op 28 April vanjaar op Disney+ verskyn.

Kyk die voorskou daarvan hier:

Bykomende bronne: Variety, Jacaranda FM,

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.