Hollywood: Disney-aktrise nou ruimte-entrepreneur, Meryl Streep-rolprent word verhoogstuk

Bridgit Mendler. (Foto: Levin den Boer/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Van Disney-aktrise na wetenskaplike

Disney is daarvoor bekend dat hy oornag van tieners sterre maak, maar nog nooit het een fisiek vir die sterre gereik nie.

Bridgit Mendler, ’n 31-jarige sanger en aktrise wat veral bekend is vir die rol van Teddy Duncan in die Disney Channel-reeks Good Luck Charlie, het vandeesweek op X (voorheen Twitter) aangekondig dat sy ’n Kalifornië-gebaseerde satellietdata-maatskappy genaamd Northwood Space gaan begin.

Mendler, wat ná haar Disney-dae aan die gesogte Massachusetts Instituut vir Tegnologie (MIT) studeer het, se maatskappy sal fokus op die vinnige vervaardiging en ontplooiing van grondstasies om die groot hoeveelheid ruimtedata wat gestuur word te fasiliteer, namate die ruimtebedryf aanhou groei.

“Die visie is ’n data-snelweg tussen die aarde en die ruimte,” het Mendler aan CNBC verduidelik.

“Die ruimte word makliker met soveel verskillende dimensies, maar steeds is die werklike oefening om data na en van die ruimte te stuur moeilik. Jy sukkel om ’n toegangspunt te vind om jou satelliet te kontak.”

The Devil Wears Prada op pad na die verhoog

Vanessa Williams as Miranda Priestly in ‘The Devil wears Prada, The Musical’. (Foto: Instagram/@pradawestend)

Die voormalige skoonheidskoningin, aktrise en sanger Vanessa Williams gaan in die ikoniese The Devil Wears Prada-karakter, Miranda Priestly se ontwerperskoene klim vir ’n splinternuwe musiekblyspel gebaseer op dié 2006-lokettreffer.

Die aktrise het op sosiale media aangekondig dat sy die redakteur van die fiktiewe Runway-modetydskrif sal vertolk in dié nuwe musiekspel wat in Oktobermaand op die Britse West End sy buiging sal maak.

Meryl Streep, wat dié karakter in die 2006-fliek van dieselfde naam vertolk het, het in 2007 ’n Oscar-benoeming vir beste vrouebyspeler vir haar rol as die ysige en stylvolle Miranda Priestly ontvang.

Williams het self bekendheid verwerf vir die rol van Wilhelmina Slater, ’n Miranda Priestly-geïnspireerde karakter, in die komediereeks Ugly Betty.

ABC News berig dat Elton John boonop verantwoordelik sal wees vir The Devil Wears Prada The Musical se musiek.

Beyoncé se country-treffers maak geskiedenis

Daar is klaarblyklik gʼn einde aan Beyoncé se talente nie.

Dié Amerikaanse sanger het vandeesweek geskiedenis gemaak deur die eerste swart vrou te word om die topposisie op die Amerikaanse Billboard Hot Country Songs-trefferlys te beklee.

Dit is te danke aan haar jongste vrystelling, “Texas Hold ’Em” – een van twee nuwe treffers vanaf die tweede deel van haar topverkoperalbum, Renaissance.

(Foto: Instagram/@beyoncé)

Maroela Media het vroeër berig die sanger, wat in Houston, Texas, in die VSA gebore is, se keuse om haar kenmerkende RnB-styl vir country te verruil, het aanhangers klaarblyklik verbaas. Haar nuwe album, wat op 29 Maart verskyn, se country-styl is egter volgens kenners die sanger se manier om terug te keer na haar country-wortels.

Die sosialemediaplatform TikTok is reeds vol van “Texas Hold ’Em”-dansies.

Dié lied is boonop reeds meer as 10 miljoen keer op die musiekstroomdiens Spotify geluister, terwyl die lirieke-video op YouTube meer as 3 miljoen trefslae het.

Obama se oudste nou rolprentmaker onder nuwe naam

Barack Obama, voormalige president van die VSA, se oudste dogter, Malia Obama, het haar bekende van laat vaar in ’n poging om haarself van haar ouers te distansieer.

Malia, ’n Harvard-gegradueerde filmmaker, staan nou professioneel bekend as “Malian Ann”. Ann is die 25-jarige se middelnaam.

Haar eerste rolprent as regisseur, én onder haar nuwe verhoognaam, The Heart, het onlangs sy buiging by die Sundance-rolprentfees gemaak. Sy het ook reeds skryfkrediete as ’n personeelskrywer op die Amazon Prime-program Swarm.

Malia het ’n jonger suster, Sasha, wat onlangs graad gevang het aan die Universiteit van Kalifornië. Die twee Obama-sussies woon saam in Kalifornië.

Bronne: BBC, ABC News, E! News, People.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.