Hollywood: Disney-flieks kry opvolge; aanbieder in die sop oor Meghan Markle-rubriek

Die voormalige Top Gear-aanbieder, Jeremy Clarkson. (Foto: Stefan Heunis/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Jeremy Clarkson in die sop

Die Verenigde Koninkryk se perswaghond, die Onafhanklike Persstandaarde Organisasie, is besig om ondersoek in te stel nadat Jeremy Clarkson se rubriek oor Meghan Markle nagenoeg 25 000 klagtes laat instroom het.

In dié rubriek, wat op 17 Desember 2022 in die koerant, The Sun, verskyn het, skryf die voormalige Top Gear-aanbieder dat prins Harry deur Meghan “beheer” word.

Hy het ook geskryf dat hy “oor die dag droom waarop sy gedwing word om naak deur die strate van elke straat in Brittanje te loop terwyl die skare op haar skree en stukke ontlasting op haar gooi”.

Die rubriek is gepubliseer kort nadat Harry en Meghan se opspraakwekkende dokumentêr, Harry & Meghan, op Netflix verskyn het.

Die uitslag van die ondersoek sal later deur die Onafhanklike Persstandaarde Organisasie bekend gemaak word.

Dié drie Disney-flieks het opvolge op die horison

Bob Iger, Disney se uitvoerende direkteur, het aangekondig dat opvolgrolprente van Toy Story, Frozen en Zootopia tans in die pyplyn is.

(Foto: Disney via AP)

Dít terwyl Disney ’n onstuimige tydperk in die gesig staar nadat kykergetale met byna 1,5 miljard kykers gedaal het en 7 000 mense – sowat 3,6 % van Disney se werknemers – hul werk by die stromingsreus kwyt is.

Die besluit om mense af te dank spruit uit ’n besparingsplan wat in plek gestel is, maar volgens Bob is die “besluit nie ligtelik” geneem nie.

Die plan bepaal dat Disney in drie afdelings verdeel: vermaak wat flieks, reekse en stromingsgeriewe insluit; die sportgesentreerde ESPN; en Disney-parke met gepaardgaande ervarings en produkte.

Die organisasie se stromingsdiens, Disney+, sal egter die topprioriteit bly, het Bob verduidelik.

Squid Game-ster se hofsaak begin

Die Squid Game-akteur, O-Yeong-su het verlede week erken dat hy dalk “verkeerd opgetree het” tydens sy eerste hofverskyning  op aanklagte van seksuele wangedrag in Seoul, Suid-Korea.

O-Yeong-su. (Foto: Image Press Agency/NurPhoto/AFP)

Die 78-jarige akteur, bekend vir sy rol in die Netflix-trefferreeks, Squid Game, is in November hieroor aangekla. Dit kom nadat hy na bewering in 2017 tydens ’n mediatoer onvanpas aan ’n jong aktrise gevat het.

Die polisieverslag dui daarop dat O na bewering die jong vrou gedwing het om hom te druk en haar ’n soen op die wang gegee het terwyl hulle saam gestap het. Hy het intussen erken dat hulle hande vasgehou het, maar hou daarby dat daar nie enige aanranding plaasgevind het nie.

Die bewerings het in 2021 op die lappe gekom, maar is deur die polisie laat vaar weens ’n gebrek aan bewyse. Die saak is egter heropen nadat die vrou geappelleer het.

Die hofsaak sal in April vanjaar voortgesit word.

Bykomende bronne: BBC News, The Hollywood Reporter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

TruthDealer ·

Ek is verbaas dat daar 25 000 mense is wat genoeg van Meghan hou, om te kla. Miskien maar net oor die onsmaaklikheid van Clarkson se opmerking. Dit was nou nie juis in goeie smaak nie. Ek dink nie enigiemand gee om oor haar en Harry se “relationship dynamics” nie. Harry het sy bed gemaak, hy moet nou maar daarin slaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.