Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste nuus uit Hollywood.
Joe en Sophie se paaie gaan skei
Ná vier jaar en twee kinders saam, gaan Joe Jonas (34) en Sophie Turner (27) van Game of Thrones-faam se paaie skei.
Beweringe van dié egskeiding het vroeër vandeesweek aan die lig gekom, en is bevestig deur Joe wat Dinsdag ʼn aansoek om ʼn egskeiding in Miami, Florida, ingedien het.
Die vervreemde egpaar het in ʼn gesamentlike verklaring gesê dat hulle die egskeiding met respek hanteer.
“Ná vier jaar van ʼn wonderlike huwelik, het ons gesamentlik besluit om ons huwelik op ʼn vriendskaplike wyse te beëindig,” lui die verklaring wat Sophie op Instagram gedeel het.
“Daar is baie spekulasies oor hoekom, maar dit is werklik ʼn verenigde besluit en ons hoop van harte dat almal ons wense vir privaatheid vir ons en ons kinders sal respekteer.”
Die paartjie was veral bekend vir hul privaatheid oor hul huwelik en kinders. Hulle is in 2019 in ʼn geheime seremonie in Las Vegas getroud, en het ʼn maand later ʼn partytjie in Frankryk vir vriende en familie gehou.
Hul eerste dogtertjie, Willa, is in 2020 gebore, en hul tweede verlede jaar. Hulle was deurentyd baie streng oor hul kinders se privaatheid, en het tot dusver glad nie toegelaat dat paparazzi steelfoto’s van die spruite neem nie. Hulle het ook nie die presiese geboortedatums van hul dogtertjies, of selfs hul tweede se naam bekendgemaak nie.
Sosialemediagebruikers gons oor die verbrokkeling van Sophie en Joe se huwelik, veral omdat daar beweringe aan die lig gekom het dat Sophie te veel van partytjies hou, en dat die kinders tans in Joe se sorg is. Joe, wat tans saam met sy boeties op toer is, word ook nog gereeld met sy trouring aan sy vinger gesien.
Steelfoto’s van Joe saam met sy dogters het ook die tonge laat klap, aangesien hulle voorheen so streng oor dié foto’s was.
Jimmy Fallon van “toksiese gedrag” beskuldig
Jimmy Fallon en Ellen DeGeneres is dalk nou in dieselfde boot.
In ʼn opspraakwekkende berig wat vroeër vandeesweek deur die Rolling Stone-tydskrif gepubliseer is, word Jimmy, aanbieder van The Late Show, daarvan beskuldig dat hy ʼn toksiese werksomgewing skep.
Nie minder nie as 16 huidige en voormalige werknemers van The Late Show het in dié berig na vore gekom om te sê dat hulle nou al vir ’n geruime tyd ongelukkig met Jimmy se gedrag is. Daar word beweer dat Jimmy dikwels passief-aggressiewe kommentaar oor mense se werk gelewer het, uitbarstings gehad het en onvoorspelbaar opgetree het.
Die werknemers het ook beweer dat hulle dikwels na die gaste-aantrekkamers by The Late Show verwys het as die “huilkamers”, aangesien daar dikwels trane op stel gestort is weens Jimmy se gedrag. Hulle voer ook aan dat Jimmy dikwels besope by die werk opdaag, wat sy onvoorspelbaarheid en uitbarstings vererger.
In ʼn Zoom-gesprek wat Donderdag 7 September tussen Jimmy en sy huidige werknemers plaasgevind het, het Jimmy jammer gesê vir sy bydrae tot die toksiese omgewing.
“Dit is vernederend en ek voel so sleg daaroor. Ek is jammer as ek jou, jou familie en vriende hierdeur verneder het,” het Jimmy tydens die vergadering gesê.
“Ek wil hê dat hierdie program pret moet wees, en dat dit inklusief vir almal moet wees.”
Jimmy is nie die eerste aanbieder wat van toksiese gedrag beskuldig word nie. Soortgelyke beweringe het in 2020 oor Ellen DeGeneres, wie se geselsprogram toe reeds sowat 17 jaar op die lug was, op die lappe gekom. The Ellen DeGeneres Show het kort daarna geëindig, hoewel Ellen destyds gesê het dat dit nie weens die beweringe was nie.
Jimmy het in 2014 The Late Show se leisels by Jay Leno oorgeneem en het verlede week ʼn nuwe podsendingreeks saam met ander laataand-aanbieders aangekondig.
Kourtney Kardashian Barker ondergaan noodoperasie
Die werklikheidster en glanspersoonlikheid, Kourtney Kardashian Barker, moes ʼn nood-fetale-operasie ondergaan om haar ongebore babatjie se lewe te red.
Travis Barker, Kourtney se man, het vroeër vandeesmaand inderhaas Blink 182, waarvan hy die dromspeler is, se toer verlaat vir ʼn “familie-noodgeval”. Kourtney het vroeër vandeesweek bekendgemaak dat dié noodgeval inderwaarheid ʼn noodoperasie was.
“Ek sal vir altyd dankbaar wees vir die dokters wat ons baba se lewe gered het,” skryf dié 44-jarige TV-ster op Instagram.
“Ek is ook dankbaar vir my man wat sy toer verlaat het om by my te wees, en my ma wat my hand vasgehou het hierdeur.”
Kourtney erken dat haar vorige drie swangerskappe glad verloop het, en dat dié ervaring haar ʼn nuwe blik op moederskap gegee het.
“Ek dink nie enigiemand wat nog nie deur só ʼn situasie was kan begin om daardie vrees te verstaan nie. Ek het ʼn hele nuwe begrip en respek vir die mammas wat tydens swangerskap vir hul babas moes veg.”
“Prys die Here. Ek loop uit die hospitaal met my babaseuntjie steeds in my baarmoeder en veilig – die grootste seëning.”
Barbie aangewys as grootste fliek van die jaar
Barbie, wat in Julie vanjaar fliekteaters wêreldwyd uitgereik is, laat een na die ander rekord spat.
Nie net het Barbie die grootste openingsnaweek van die jaar geniet nie, maar dit het ook vinnig die grootste opening vir ʼn vroulike regisseur geword. Warner Bros. het ook bekendgemaak dat Barbie hul grootste uitreiking nóg was.
Dié fliek het al $1,3 miljard (sowat R25 miljard) wêreldwyd laat inrol, en word nou as die grootste fliek van die jaar beskou.
Bykomende bronne: The Hollywood Reporter, BBC News, Hello!