Hollywood: Mej. VSA-kompetisie onder vergrootglas; Shakira vir eers kwytgeskeld

Hilary Duff is nou ma van vier. (Foto: Hilary Duff/Instagram)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

‘Lizzie McGuire’-aktrise nou ma van vier

Hilary Duff en haar man, Matthew Koma, se kroos het vandeesmaand met nog ʼn pienkvoet gegroei.

Die voormalige Disney-ster se vierde kind, Townes Meadow Bair, is op 3 Mei vanjaar gebore.

“Nou weet ons waarom sy ons so lank laat wag het … Sy het daardie wange perfek gemaak,” skryf ʼn trotse Hilary op Instagram.

“Ek droom al maande lank daaroor om jou in my arms vas te hou, en die afgelope vyf dae van jou leer ken, vir jou staar en jou ruik was pure towerkuns. Ons is almal so lief vir jou asof jy nog altyd hier was.”

Hilary is veral bekend vir haar rolle in onder meer Lizzie McGuire, A Cinderella Story, Cheaper By The Dozen en How I Met Your Father. Sy is in 2019 getroud met Matthew, ʼn liedjieskrywer en platejoggie, en hulle het drie kinders – vyfjarige Banks Violet, driejarige Mae James en nou ook klein Townes.

Hilary was voorheen met die hokkiespeler Mike Comrie getroud en het haar eersteling, 12-jarige Luca, by hom gehad.

Nuwe ‘Lord of the Rings’-flieks op pad

Kykers gaan binnekort kan terugkeer na Middle-earth.

David Zaslav, die uitvoerende hoof van Warner Bros. Discovery, het vroeër vandeesweek bevestig dat die produksiehuis tans besig is om verskeie tekste vir nuwe The Lord of the Rings-flieks te ontwikkel.

“Die flieks sal storielyne verken wat nog vertel moet word,” sê David.

Die eerste rolprent sal na verwagting in 2026 die grootskerm tref en heet in die stadium nog Lord of the Rings: The Hunt for Gollum. Dié titel kan dalk nog verander. Daar word verwag dat Planet of the Apes se Andy Serkis die regie van die fliek sal behartig en self ook in die fliek sal speel.

Peter Jackson, Fran Walsh en Philippa Boyens sal volgens David “in elke tree van die proses betrokke wees”. Daar word tans twee nuwe flieks in die reeks beplan.

“Vir twee dekades het fliekgangers die The Lord of the Rings-trilogie omarm as gevolg van die ongetwyfelde lojaliteit wat Peter, Fran en Philippa vir die nalatenskap van Tolkien se werk gehad het,” sê David.

“Ons is geëerd dat hulle ingestem het om vennote vir die nuwe flieks te wees. Met Andy wat aan boord kom om die regie van die eerste fliek te behartig, gaan ons voort om verder aan die The Lord of the Rings-geskiedenis te bou.”

Shakira se regsprobleme vir eers uitgeklaar

ʼn Spaanse hof het Donderdag 9 Mei bevestig dat die ondersoek oor Shakira se beweerde belastingsbedrog gestaak is.

Aanklaers het die saak in Julie 2023 geopen, waarin beweer is dat sy in 2018 ʼn netwerk van maatskappye gebruik het om die belastingowerhede van €6,6 miljoen (sowat R131 miljoen) te bedrieg.

Shakira. (Foto: Facebook/Shakira)

ʼn Maand ná die klagtes op die lappe gekom het, het die “Hips don’t lie”-sangeres die skuld vereffen.

Aanklaers het vandeesweek versoek dat die kriminele klagte wat teen Shakira gemaak is geskrap word weens ʼn gebrek aan bewyse. Die hof het ʼn dag later daartoe ingestem.

Pau Molins, een van die Spaanse sangeres se prokureurs, het gesê dat sy kliënt dankbaar is dat die “lasterlike saak” teen haar laat vaar is en dat dit bewys dat “daar nooit enige bedrieglike gedrag van die sanger was nie”.

Mej. VSA-kompetisie onder vergrootglas

Die bedankings van twee prominente skoonheidskoninginne het die Mej. VSA-kompetisie geruk.

Noelia Voigt, wat in September verlede jaar as Mej. VSA gekroon is, en UmaSofia Srivastava, wat die kroon van Mej. Tiener VSA gedra het, het in dieselfde week hul krone aan die organisasie terugbesorg.

Dit is nog nie bekend waarom die twee besluit het om afstand tussen hulle en die organisasie te doen nie, maar daar word vermoed dat dit te make het met die omgewing wat die organisasie vir sy werknemers en betrokke partye skep.

Noelia het ná haar uittrede aan haar Instagram-volgelinge gesê om “nooit hul fisieke en geestesgesondheid prys te gee nie,” en dat “gesondheid jou rykdom” is.

Twee dae later het UmaSofia haar bedanking aangekondig en het bloot gesê dat daar ʼn “onenigheid” tussen haar en die organisasie was.

Claude Michelle, Mej. VSA se direkteur van sosiale media, het ook vroeër vandeesmaand, in dieselfde tyd as Noelia en UmaSofia, bedank. Sy beweer in ʼn Instagram-plasing dat sy vir twee maande sonder enige vergoeding gewerk het, dat sy geen werkers gehad het om mee saam te werk nie en glo dat die bestuur geen respek vir die wenners het nie.

Michelle sê dat sy nou saam met Noelia gewerk het, en dat sy in die afgelope paar maande ʼn stadig maar sekere agteruitgang in die skoonheidskoningin se geestesgesondheid gesien het.

Sy beweer ook dat die bestuur van Mej. VSA minagtend teenoor UmaSofia en haar gesin opgetree het.

Bykomende bronne: Los Angeles Times, The Hollywood Reporter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.