Hollywood: ‘Moana’ weer op pad silwerskerm toe; trouklokke lui vir akteurspaar

Dwayne Johnson. (Frederic J. Brown/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

‘Moana’ eersdaags in lewende lywe op die silwerskerm

Dwayne Johnson het pas bekend gemaak dat ʼn lewendige weergawe van die treffer-animasierolprent, Moana, binnekort die silwerskerm gaan tref.

Dié Disney-rolprent het is in 2016 uitgereik en het vinnig een van Disney-liefhebbers se gunstelingflieks geword. Daar is vandeesweek aangekondig dat Disney besig is om ʼn lewendige weergawe van dié eilandfliek te maak.

“Ek is geëerd om in samewerking met Disney ons storie deur musiek en dans te vertel. Dit is die kern van Polinesiese mense,” het Dwayne in ʼn onlangse boodskap op Twitter geskryf.

Hy het ook ʼn video van hom en sy twee dogters op ʼn strand in Hawaii gedeel om die nuus bekend te maak.

Dwayne, wat sy stem aan Maui geleen het en gaan terugkeer om die leisels weer op te tel, het in Hawaii grootgeword. Die fliek lê hom dus baie na aan die hart en hy sien uit daarna om ʼn deel van sy erfenis op die silwerdoek te deel.

Moana is maar een van die animasierolprente wat deur die jare in lewende lywe oorgedoen is. The Beauty and the Beast, Cinderella, Aladdin, The Lion King en The Jungle Book is van die rolprente wat in die laaste paar jaar as lewendige weergawes oorgedoen en uitgereik is.

Die jongste in dié reeks is The Little Mermaid, wat later vanjaar die silwerskerm gaan tref. Dié rolprent het mense omtrent aan die gons, veral nadat daar onlangs aangekondig is dat van die musiek verander is om prins Eric minder opdringerig te laat klink.

Alan Menken, die komponis wat die oorspronklike musiek vir die animasierolprent geskryf het, het bekendgemaak dat hy die woorde van “Kiss the Girl” en “Poor Unfortunate Souls” verander het.

“Mense het sensitief geword oor die idee dat prins Eric homself in enige manier teenoor Ariel sou opdwing,” het Alan onlangs aan Vanity Fair erken.

“Ons het ook ʼn paar hersiene lirieke in ‘Poor Unfortunate Souls’ met betrekking tot die lyne wat mag aandui dat meisies nie buite hul beurt moet praat nie, selfs al is dit duidelik dat Ursula besig is om Ariel te manipuleer om haar stem op te gee.”

Kyk die lokprent daarvan hier:

Malia Obama nou rolprentmaker

Die oudste dogter van oudpres. Barack Obama, Malia, gaan nou ʼn nuwe titel ryker word; dié van rolprentregisseur.

Malia en Barack Obama in 2016. (Foto: AFP)

Die akteur en komediant, Donald Glover, se onderneming Gilga sal Malia se regisseursdebuut-kortfilm vervaardig.

“Die eerste ding wat ons gedoen het, is om uit te klaar dat ons hierdie net een keer gaan kan doen,” het Donald vroeër vandeesmaand in ʼn onderhoud met GQ bekend gemaak.

“Jy is Barack Obama se dogter. As jy ʼn slegte rolprent maak, sal dit jou oral heen volg.”

Trouklokke aan’t lui vir dié akteurspaar

Die akteurspaar, Justin Long en Kate Bosworth, is verloof.

Justin en Kate het in die jongste episode van sy podsendingreeks, Life is Short, bekendgemaak dat hy en Kate vroeër vanjaar verloof geraak het.

Justin Long en Kate Bosworth is verloof. (Foto: Amy Sussman/Getty Images/AFP)

“Ons begin met ʼn nuwe hoofstuk,” het 40-jarige Kate in die episode gesê.

Mense het begin wonder oor die egpaar nadat hulle onlangs ʼn geleentheid bygewoon het en ʼn ring op Kate se linkerhand gepryk het.

Justin het in die episode verduidelik dat hy eintlik beplan het om op ʼn meer indrukwekkende wyse die groot vraag te vra, maar dat die planne nie tot werklikheid gekom het nie.

Hulle het nie uitgebrei op die onderwerp nie, maar het wel gesels oor ʼn moeilike ding waardeur hulle as paartjie gegaan het, wat tot die verlowing gelei het.

“Die vra daarvan was eintlik maklik, dit het net uitgeborrel.”

Bykomende bronne: People, Variety, NBC Los Angeles, The Hollywood Reporter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.