Hollywood: Monica Lewinsky nou ook model, ‘Mary Poppins’ se ouderdomsbeperking verhoog, nuwe ‘NCIS’ op pad

Monica Lewinsky hou haar lyf model. (Foto: Facebook/Reformation)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Monica Lewinsky model vir aktivistiese klerereeks

Monica Lewinsky, wat in die 1990’s bekendheid verwerf het weens haar buite-egtelike verhouding met die voormalige Amerikaanse president Bill Clinton, is die gesig van ʼn klerereeks wat mense “wil aanmoedig om te stem in die komende Amerikaanse verkiesing”.

Die aktivis en skrywer speel tans model vir ʼn Los Angeles-gebaseerde handelsmerk, Reformation, se nuwe versameling, getiteld “You’ve Got the Power”.

In foto’s van die nuwe reeks poseer die voormalige Withuis-intern in kantoordrag met stylvolle snitte en baadjies.

“Monica Lewinsky en Vote.org is hier om jou te herinner dat die mag in jou hande lê,” het die handelsmerk in ʼn Instagramplasing geskryf.

Lewinsky is deesdae bekend vir haar werk as motiveringspreker en vroueregte-aktivis wat veral die kollig op kuberboeligedrag wil plaas.

Mary Poppins se ouderdomsbeperkings verhoog

ʼn “Spoonful of Sugar” is klaarblyklik nie genoeg om Mary Poppins geskik vir kleingoed te maak nie.

Dié klassieke Disney-rolprent, met Julie Andrews in die hoofrol, se ouderdomsgradering is deur die Britse rolprentraad verhoog omdat dit na bewering “diskriminerende taal” bevat.

Die rolprent se gradering was U wat vir universeel staan, maar is nou na PG vir ouerleiding verhoog.

Die BBC berig dat dié veranderinge gemaak is weens die rolprent se gebruik van “ʼn neerhalende term oor nomadiese volke in suidelike Afrika”, naamlik die woord “hottentot”.

In die rolprent, wat in 1910 afspeel en in 1963 verfilm is, gebruik die Banks-gesin se buurman dié woord twee keer.

Die Britse rolprentraad sê sy navorsing oor rassisme en diskriminasie het getoon ʼn belangrike bekommernis vir mense, veral ouers, is “die potensiaal om kinders bloot te stel aan diskriminerende taal of gedrag wat hulle ontstellend kan vind of herhaal sonder om die moontlike oortreding te besef”.

Nuwe kykstof vir Suits, NCIS én Bridget Jones-aanhangers

Michael Weatherly en Cote de Pablo in ‘NCIS’. (Foto: Facebook/NCISVerse)

Nuwe aflewerings van die televisiereekse Suits en NCIS, asook ʼn nuwe Bridget Jones-rolprent is in aantog.

Die stroomdiens Paramount+ het Woensdag aangekondig dat Michael Weatherly en Cote de Pablo die rolle van hul NCIS-karakters, “Tony” en “Ziva”, sal hervat in ʼn komende reeks.

Volgens die aankondiging het die nuwe reeks nog nie ʼn titel nie en hulle sal na verwagting later vanjaar met produksie begin.

NCIS, wat sedert 2003 op die kleinkassie te sien is, het twee ander uitvloeireekse, naamlik NCIS Los Angeles en NCIS New Orleans.

Suits, die prokureursreeks wat ʼn ster van Meghan Markle, die hertogin van Sussex, gemaak het, sal ook ʼn nuwe aflewering genaamd Suits LA kry.

People berig dat Stephen Amell van Green Arrow-faam ʼn Los Angeles-gebaseerde prokureur sal speel wat sy sukkelende regsfirma probeer herstel. Dit is nog nie bekend wanneer dié reeks te sien sal wees nie.

Dit blyk ook dat ʼn vierde Bridget Jones-fliek eersdaags op die grootskerm sal wees. Hello! berig dat Renée Zellweger sal terugkeer as dié geliefde Britse karakter ná die sukses van 2016 se Bridget Jones’s Baby.

Hoewel dit nog nie amptelik bevestig is nie, word daar voorspel dat die nuwe rolprent geskoei sal wees op die derde Bridget Jones-boek, Mad about the boy – waarin Bridget haar voete moet vind as enkelouer ná die tragiese dood van haar man, Mark Darcy.

Daar word ook verwag dat Hugh Grant moontlik sy rol as Bridget se ekskêrel, Daniel Cleaver, sal hervat.

Australiese fotograaf en popster se pa slaan vuis

Nes die titel van haar bekende 2016-treffer het die popster Taylor Swift se pa, Scott, klaarblyklik “Bad Blood” met ʼn Australiese fotograaf opgedoen.

Ben McDonald, ʼn paparazzi-fotograaf, het aan die polisie gesê dat hy verlede week in die gesig geslaan is deur Taylor Swift se pa by die Sydney-waterfront, ure nadat die popster se Australiese toer geëindig het, berig CBS News.

Hy beweer dat Swift se pa hom by die Neutral Bay Wharf aangerand het nadat pa en dogter van ʼn seiljag afgeklim het.

Taylor Swift op die verhoog tydens ‘n optrede van haar Eras-toer. (Foto: Michael Tran/AFP)

Volgens McDonald het hy, nes die ander fotograwe, nie naby die sanger gekom nie, maar vir haar gewag om af te klim om kiekies van haar vas te vang.

ʼn Woordvoerder van Swift het egter aan CBS News gesê dat “twee individue ten tyde van die voorval aggressief in die rigting van Taylor gedruk het, na haar veiligheidspersoneel gegryp en gedreig het om ʼn vrouepersoneellid in die water te gooi”.

Volgens AFP het Australiese ondersoekbeamptes bevestig dat ʼn moontlike saak van aanranding tans ondersoek word.

McDonald het ook aan CBS News bevestig dat hy nie ernstige beserings opgedoen het nie, maar “slegs ʼn paar kneusplekke” het.

Bronne: AFP, CBS News, BBC, People, Hello!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.