Hollywood: Nick Jonas se baba uiteindelik tuis; Charlize Theron se jongste rol in Marvel-faam

Priyanka Chopra en Nick Jonas. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Nick Jonas en Priyanka Chopra deel eerste foto van dogter

Die glansryke egpaar, Nick Jonas, Amerikaanse sanger-liedjieskrywer, en Priyanka Chopra, het in ’n hartroerende Instagram-plasing vir die eerste keer hul dogter, Malti Marie Chopra Jonas, vir die wêreld gewys.

“Op hierdie Moedersdag kan ons nie anders as om te besin oor die laaste paar maande en die tuimeltrein waarop ons was nie. Na meer as 100 dae in die neonatale intensiewe sorgeenheid is ons dogtertjie uiteindelik tuis,” het die plasing gelui.

In Januarie vanjaar het die paar, wat in 2018 getroud is, die nuus gedeel dat hulle ’n babadogtertjie deur middel van surrogaatskap verwelkom het.

Hayden Panettiere keer terug vir jongste ‘Scream’

Die gruwel-rolprentreeks Scream is reeds besig om akteurs en aktrises terug te nooi vir ’n opvolgrolprent.

Hayden Panettiere (Foto: Amanda Edwards/Getty Images/AFP)

Dit kom nadat die bekende rillerreeks nuwe lewe gekry het in Januarie vanjaar met ’n splinternuwe rolprent wat net Scream heet.

Panettiere, wat in 2011 se Scream 4 te sien was, is een van die gesigte wat terugkeer vir die opvolg.

Die eerste rolprent van die gruwelreeks is in 1996 uitgereik. Dit is opgevolg met drie opvolgflieks, een meer skrikwekkend as die vorige een.

Daar het egter ’n stilte oor die reeks toegesak tot en met vroeër vanjaar toe die vyfde aflewering uitgereik is. Dié het miljoene dollar laat inrol, en die vervaardigers Spyglass en Paramount het kort daarna besluit om nóg ’n rolprent van stapel te stuur.

Daar sal later vanjaar met verfilming begin word.

Charlize Theron gee aanhangers ’n ‘Marvel’-voorsmakie

Die Suid-Afrikaans gebore Oscar-wenner Charlize Theron het onlangs die eerste foto van haar Marvel-karakter, Clea, op haar Instagram-blad gedeel.

“Ontmoet Clea,” het die kort dog insiggewende inskrywing gelui.

Geklee in blou en pers beïndruk sy as die jongste karakter in die Marvel-heelal. Sy sal in ’n insetsel van die Doctor Strange-reeks te sien wees en sal teenoor die hoofkarakter, vertolk deur Benedict Cumberbatch, speel.

‘A Simple Favor’ kry opvolgrolprent

Anna Kendrick en Blake Lively by ‘A Simple Favor’ se première. (Foto: Anthony Harvey/AFP)

Anna Kendrick en Blake Lively keer terug na die silwerskerm vir ’n opvolgrolprent van die rolprent A Simple Favor.

Dié rolprent is in 2018 uitgereik en het wêreldwyd byna $100 miljoen (sowat R1 624 miljoen) by die loket verdien.

Die fliek handel oor ’n vrou (Kendrick) wat haar vermiste vriendin (Lively) probeer opspoor en is gebaseer op die boek A Simple Favor wat in 2017 gepubliseer is.

Paul Feig is die regisseur. Die aanvang van verfilming is nog nie bekend nie.

Bron: The Hollywood Reporter, Hollywood Life, Deadline

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.