Hollywood: ‘Twilight’-reeks op pad; Michael Schumacher se familie dagvaar tydskrif

Michael Schumacher Foto: digitaltrends.com

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Michael Schumacher se familie dagvaar tydskrif

Die renjaer, Michael Schumacher, se familie beplan om regstappe teen Die Aktuelle, ’n Duitse tydskrif, te neem nadat daar ’n fopberig oor Michael in dié tydskrif verskyn het.

Michael was op die voorblad van die tydskrif te sien met die woorde: “Michael Schumacher – die eerste onderhoud,” groot op die bladsy geskryf.

Dié tydskrif het van die kunsmatige intelligensie-webwerf, Character.AI, gebruik gemaak om ’n “onderhoud” met die 54-jarige renjaer te voer. In dié “aanhalings” gesels Michael oor hoe dit met sy gesondheid gaan en die wyse waarop sy gesin hom bystaan.

“Met die hulp van my span, kan ek staan en stadig ’n paar treë neem,” het dié fopaanhalings gelui.

“My vrou en kinders is ’n seëning en sonder hulle sou ek dit nie kon vermag nie.”

As’t ware, het nie Schumacher óf sy gesin enige nuus oor sy toestand of gesondheid sedert sy 2013 ski-ongeluk bekendgemaak nie.

Twilight-reeks op pad

Kristen Stewart en Robert Pattinson by die première van ‘The Twilight Saga: Breaking Dawn – Part 2’ in 2012. (Foto: Christopher Polk/Getty Images)

Diegene wat getrou hul springmielies en rolprentkaartjies aangeskaf het in die jare wat daar gereeld ’n Twilight­-rolprent die teaters getref het, kan gerus hul vere begin regskud vir nóg ’n weergawe van dié sage.

The Hollywood Reporter berig dat ’n TV-reeks van dié alombekende boeke en rolprente in die beginstadiums van ontwikkeling by Lionsgate Television is.

Sinead Daily, wat met Tell me lies, The Walking Dead: World Beyond en Raised by wolves verbind word, staan aan’t stuur van die skryfproses van die reeks.

Die platform waarop dié reeks gaan verskyn, tydlyne en enige ander besonderhede oor die nuwe projek is nog nie bekend nie.

Eerste fliek in ruimte geskiet, tref silwerskerm

Die eerste fliek wat in die ruimte geskiet is, het vandeesweek die silwerskerm getref.

Pres. Wladimir Poetin (Foto: Grigory SYSOYEV / SPUTNIK / AFP)

The Challenge, ’n Russiese rolprent wat handel oor ’n chirurg wat na die internasionale ruimtestasie gestuur word om ’n ruimtevaarder te red, se première het Donderdag 20 April in Moskou plaasgevind.

’n Aktrise en regisseur het in Oktober 2021, 12 dae in die ruimte deurgebring om dié rolprent te skiet. Die Russiese rolprentspan het ’n soortgelyke Hollywood-projek, wat Tom Cruise, NASA en Elon Musk ingesluit het, voorgespring.

“Ons is die eerste om ’n fliek in die ruimte te skiet. Weereens ’n eerste,” het die Russiese president, Wladimir Poetin, tydens die geleentheid gesê.

Bykomende bronne: BBC Sport, Hollywood Life, The Hollywood Reporter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.