Hollywood: Voormalige sjef val Benedict Cumberbatch aan; John Cleese sê ‘aikôna’ vir politieke kritiek

Benedict Cumberbatch. (Foto: Noam Galai/Getty Images vir Disney/AFP)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Benedict Cumberbatch en gesin aangeval deur voormalige sjef

Die Britse akteur, Benedict Cumberbatch, sy vrou en kinders was tuis toe sy huis deur ʼn voormalige sjef, Jack Bissel, betree is.

Bissel (35) het ʼn mes in die hand gehad toe hy by Cumberbatch se ystertuinhek ingebars het.

“Ek weet dat jy hiernatoe getrek het. Ek hoop dit brand af,” is die woorde wat hy Cumberbatch toegesnou het, het ʼn Londense hof gehoor.

Bissel het skuldig gepleit op ʼn aanklag van kriminele skade, en moes ʼn boete van £250 (sowat R6 121) betaal. Daar is ook ʼn interdik van drie jaar teen hom ingestel om te verhoed dat hy weer die Cumberbatch-gesin lastig val.

Bissel het voorheen vir die Mayfair Hotel in Londen gewerk.

John Cleese sê aikôna vir politieke kritiek

Die pittige Engelse akteur, John Cleese, het sy neus opgetrek vir onlangse kritiek oor ʼn verhoogproduksie van sy 1979 komedie, Life of Brian.

John Cleese. (Foto: Stephen Lovekin/Getty Images/AFP)

Hy het van hom op Twitter laat hoor nadat die Daily Mail verkeerdelik berig het dat dié produksie ʼn opspraakwekkende toneel gaan sny wat met individue wat as transgender identifiseer die spot dryf.

In dié toneel verklaar een van die manlike karakters dat hy voortaan as ’n vrou met die naam Loretta sal identifiseer en dat sy vriende hom ook so moet aanspreek. Daar word dan verder daaroor gespot en gegrap.

John het ʼn klein gehoor in Londen toegespreek by ʼn voorlesing van sy teks. Een van die gehoorlede het na afloop van John se kort geselssessie die Daily Mail gekontak, wat gelei het daartoe dat daar verkeerdelik daaroor berig is.

John het dié beriggewing kort en kragtig op Twitter aangespreek.

“Die akteurs, wie almal Tony-wenners is, het my aanbeveel om die Loretta-toneel te sny.

“En natuurlik het ek geen voorneme om dit te doen nie.”

Kim Cattrall maak eindelike terugkeer na ‘And just like that’

Ná ʼn jarelange vete tussen die Sex and the City-aktrises, Kim Cattrall en Sarah Jessica Parker, gaan Kim eindelik haar terugkeer na dié fiktiewe wêreld maak. Al is dit net vir een aand.


Kim Catrall. (Foto: Shaun Curry/AFP)

Kim sal in die laaste episode van die tweede seisoen van And Just Like That, Sex and the City se opvolgreeks, verskyn.

Variety berig dat Kim dié toneel in Maart 2022 geskiet het, maar dat sy nie met die ander drie aktrises, Sarah Jessica, Kristin Davis of Cynthia Nixon gekommunikeer het nie.

Die bekende klereontwerper, Patricia Field, wat al die kostuums van Sex and the City behartig het, is nie aan And Just Like That verbonde nie. Tog het sy Kim se kostuum vir haar toneel in dié opvolgreeks gekies.

Kim het reeds in 2016 bekendgemaak dat sy nie daarin belangstel om na die fiktiewe wêreld van Sex and the City terug te keer nie. Daar was in daardie stadium sprake van ʼn derde fliek, en Kim het nie gevoel dat die voorgestelde teks haar karakter gestand gedoen het nie.

Dié bekendmaking het gelei tot ʼn publieke vete tussen Kim en Sarah Jessica.

Toe Sarah Jessica en Michael Patric King in 2021 besluit het om die toutjies van Sex and the City weer vir ʼn opvolgreeks op te tel, is Kim nie genader om deel daarvan te wees nie.

Die nuwe seisoen van And Just Like That sal later vandeesmaand op die kassie wees, met Kim se toneel wat eers in Augustus uitgesaai gaan word.

Tupac postuum vereer met Hollywood-ster

Sowat 27 jaar ná sy dood, gaan die kletsrymer, Tupac Shakur, met ʼn ster op die Hollywood se Walk of Fame vereer word.

Tupac Shakur. (Foto: 2Pac/Instagram)

“Tupac was ʼn kletsrymer, akteur, aktivis, digter en rewolusionêr,” het Ana Martinez, die vervaardiger van dié bekende Hollywood-sterroete gesê.

“Die ikoniese kunstenaar het ná sy afsterwe voortgeleef as deel van die zeitgeist, en sal voortgaan om ʼn belangrike kulturele figuur in die toekoms te wees.”

Tupac het toneelspel, jazz, ballet en digkuns by die Baltimore School of Arts studeer voordat hy later die verhoognaam 2Pac aangeneem het en die kletsrymgroep, Digital Underground, begin het.

As ʼn solokunstenaar het hy 2Pacalypse Now in 1991 uitgereik. Hy het drie solo-albums daarna uitgereik voordat hy in 1996 noodlottig in ʼn skietvoorval gewond is.

Bykomende bronne: Variety, BBC News, The Hollywood Reporter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.