Hollywood: Wat het regtig by Astroworld gebeur en wie is Travis Scott?

Travis Scott. (Foto: Facebook)

**Waarskuwing: Sommige van die video’s in die berig bevat kru taal en beelde wat ontstellend kan wees.

Op Vrydag 5 November vanjaar het ʼn reusetragedie hom by die Astroworld-musiekfees in die VSA afgespeel toe tien mense gesterf het in ʼn stormloop tydens ʼn konsert deur die kletsrymer Travis Scott in sy tuisdorp van Houston, Texas.

Kort ná 21:30 het die 50 000 konsertgangers begin vorentoe druk na die verhoog toe, terwyl owerhede en sekuriteitswagte luidens talle internasionale berigte slegs toegekyk het hoe dinge in die gehoor handuit ruk.

Altesaam 25 mense is gehospitaliseer terwyl agt mense reeds op 5 November dood verklaar is. Nog ʼn persoon het later in die hospitaal gesterf nadat sy breindood verklaar is. ʼn Tiende persoon, die negejarige Ezra Blount, het op 14 November aan sy beserings beswyk. Dit blyk dat die meerderheid van die oorledenes doodgetrap is.

Talle vrae het intussen ontstaan oor hoe dié tragedie verhoed kon word en wat presies by dié konsert verkeerd geloop het.

Sam Peña, brandweerhoof van Houston, spreek die media toe op ‘n konferensie ná die Astroworld-tragedie. (Foto: Alex Bierens de Haan/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

“Die gehoor het om een of ander rede vorentoe begin druk na die verhoog toe, wat veroorsaak het dat mense aan die voorkant vasgedruk is en hulle kon nie uit dié situasie ontsnap nie,” het Sam Peña, brandweerhoof van Houston, aan CNN gesê.

Madeline Eskins, ʼn verpleegster wat ook die fees bygewoon het, het gesê die situasie het vererger namate dit tyd geword het vir Scott om op die verhoog te verskyn. Sy en haar kêrel het omstreeks 18:30 by die verhoog aangekom. Sowat 30 minute voordat Scott die verhoog betree het, het die gehoor al hoe groter begin raak.

“Skielik het mense agtertoe en vorentoe teen mekaar begin druk. Soos wat die tyd nader gekom het [vir Scott se optrede], het dit vererger. Ek het heeltyd drukking teen my bors gehad. Toe Scott met sy eerste liedjie begin, het ek na my kêrel gekyk en gesê: ‘Ons moet hier uit kom’.”

Volgens Alexis Guavin, nog ʼn konsertganger, het “die hel losgebars” toe Scott se vertoning begin het.

“Dit het gevoel asof al 50 000 mense skielik vorentoe begin hardloop het, wat almal saamgedruk en bitter min lug beskikbaar gelaat het. Gelukkig vir my is ek amper ses voet lank; so ek kon my kop lig en sodoende asem kry, maar die ander was ongelukkig nie so gelukkig nie.”

Talle konsertgangers het ook agterna gesê daar was geen manier om uit die gehoor te ontsnap toe dinge begin skeefloop nie. Eskins onthou dat sy en haar kêrel nie die gebied vinnig kon verlaat nie.

Hannah Longoria bring hulde aan die tien slagoffers van die Astroworld-tragedie in Houston, Texas. (Foto: Thomas Shea/AFP)

“Ek onthou ek het opgekyk, flou geraak en daarna het ek my bewussyn oor en oor herwin en weer verloor. Ek kon niks sien nie, maar ek kon voel wat gebeur. Iemand het my oor ʼn draad getrek en toe verloor ek weer my bewussyn.”

Volgens Associated Press (AP) het sommige konsertgangers gesê die versperrings wat naby die verhoog opgerig is, wat veronderstel was om twee verskillende soort kaartjiehouers te verdeel, het konsertgangers verhoed om te ontsnap.

Billy Nasser, wat ook die konsert bygewoon het, sê daar was ʼn gebied naby een van die verhoogversperrings wat soos ʼn gangkas gevorm was.

Volgens Nasser is mense gevolglik in dié kas gegooi en die deur is toegemaak. Joshua Robinson, nog ʼn feesganger, het aan AP gesê die versperrings het ʼn spasie geskep wat “net te klein en kompak was” vir al die mense daar.

Owerhede voer egter aan dat die venue aan die kriteria vir veilige in- en uitgang voldoen het en Peña sê dié venue sou 200 000 mense kon hanteer volgens die stad se brandregulasies. Daar was ook glo sowat 528 polisiebeamptes en altesaam 755 private sekuriteitsbeamptes teenwoordig.

Die amptelike sekuriteitspersoneel het ook gesê alle voorsorgmaatreëls is getref. “Dit is duidelik dat die beserings nie gebeur het weens die feit dat mense nie die venue kon verlaat nie, aangesien die venue binne die bestek van ʼn uur ontruim is nadat die geleentheid gestop is. Ons ondersoek wat die stormloop veroorsaak het.”

Sommige video’s wys hoe iemand teen ʼn platform opklim waar ʼn kameraoperateur besig was om die geleentheid te verfilm aangesien dit regstreeks op Apple Music uitgesaai is. Dié persoon pleit vir die vertoning om gestop te word en skree dat mense besig is om dood te gaan. In ander video’s kan gehoor word hoe dié pleidooie geïgnoreer word en dat aan die konsertganger gesê word om “te kalmeer”, volgens die New York Times.

“Mense kon nie asem kry nie en het links en regs flou geval,” het Raul Marquez, ʼn konsertganger, vroeër aan AFP gesê. Hy sê baie mense het gedrink en dwelms tydens die konsert gebruik.

“Sommige mense het nie omgegee nie en dié wat op die vloer gelê het, vertrap of hulle bloot geïgnoreer. Dit was intens.”

Wie is Travis Scott en kon hy meer doen om die tragedie te verhoed?

Travis Scott. (Foto: Twitter)

Hoewel Scott vanuit talle oorde onder skerp kritiek deurgeloop het dat hy nie genoeg van sy kant af gedoen het om die vertoning te beëindig en die gehoor onder bedwang te bring nie, het Stephanie Rawlings-Blake, Scott se woordvoerder, aan CBS Mornings gesê die idee dat hy die konsert eiehandig kon stop, is “belaglik”.

“Hulle het ʼn 59-bladsy operasionele plan gehad, en dit sê duidelik dat die enigste twee mense wat die gesag het om die konsert te stop, die uitvoerende vervaardiger en die konsertvervaardiger is. Scott was nie verantwoordelik [vir wat gebeur het] nie, maar hy wil deel wees van die oplossing,” het Rawlings-Blake gesê.

Rawlings-Blake beweer Scott het nie besef die fees het in ʼn dodelike tragedie ontaard nie en het agterna ʼn partytjie by Dave & Buster’s bygewoon, waar hy probeer het om “sin te maak” van die gebeure.

“Hulle het probeer besin oor wat gebeur het. Dit was ure en ure ná die konsert dat hy eers uitgevind het van die omvang van die tragedie en hoe dinge ontvou het. Hy het nog nie ophou rou saam met die slagoffers se families nie. Hy weet dat hy is wie hy is as gevolg van sy aanhangers en het ʼn diep liefde vir sy aanhangers.”

Intussen word die musikant Drake ook daarvan beskuldig dat hy “chaos aangehits” het toe hy aan die laaste 15 minute van Scott se vertoning deelgeneem het – dit nadat owerhede glo reeds ʼn noodgeval aangekondig het.

Duisende huldeblyke is by die venue in Houston, Texas, aangebring waar die Astroworld-tragedie hom afgespeel het. (Foto: Brandon Bell/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Rawlings-Blake het egter volgehou dat Scott deur sy eie span uitgevind het wat gebeur het. Ed McPherson, Scott se prokureur, het gesê Astroworld-organiseerders sou “absoluut” ʼn einde gebring het aan die konsert as dit van hulle verwag was.

“Watter moontlike rede sou hulle kon hê om voort te gaan? Hulle kon dit stopgesit het as hulle wou.”

Scott het die dag ná die konsert op Twitter gesê hy is “absoluut verpletter” deur die voorval. “My gebede gaan uit na die families wat beïnvloed is deur wat by Astroworld gebeur het. Die Houston-polisiedepartement het my volle ondersteuning terwyl hulle dié tragiese verlies van lewe ondersoek.”

Die 30-jarige musikant is gebore Jacques Bermon Webster II en is vir agt Grammy-toekennings benoem. Hy het ook ʼn Billboard-musiektoekenning en ʼn Latin Grammy-toekenning ingeoes.

Nadat sy album getiteld Astroworld in 2018 uitgereik is, het Scott die Astroworld-fees aangekondig – ʼn jaarlikse fees wat sou plaasvind oorkant die pad van die voormalige Six Flags Astroworld in Houston.

Travis Scott is in ‘n verhouding met die miljardêr, Kylie Jenner. Sy is tans swanger met hulle tweede kind. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

In 2019 het kunstenaars soos Post Malone, Lil Wayne en Young Thug tydens die fees opgetree. In 2020 is die fees weens die Covid-19-pandemie gekanselleer.

Scott en die televisiepersoonlikheid en miljardêr Kylie Jenner is sedert April 2017 ʼn paartjie. Jenner het in Februarie 2018 geboorte geskenk aan hulle dogtertjie, Stormi. Hulle het vanjaar op 7 September onthul dat Jenner hul tweede kind verwag.

Meer as die helfte van die families van die stormloopslagoffers het intussen Scott se aanbod om vir die oorledenes se begrafnisse te betaal, van die hand gewys.

Maroela Media het vroeër berig minstens 60 regsgedinge is teen Scott en Drake aanhangig gemaak.

Bykomende bron: Vulture.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

anniekiewiet ·

Hoekom gebeur sulke dinge waar drank en delms hoogty vier?

Vonkprop ·

Wat het die negejarige daar gemaak? En ek is jammer, hierdie Travis ou kon die konsert gestop het by homself. Jy het dan ‘n mikrofoon en dit vat sekondes om vir die skare iets te sê. Linkin Park het dit by een van hulle konserte gedoen en veel ander groepe ook, wat vir my sê hulle is wakker en gee vir hulle aanhangers om. Travis het aspris ‘n blinde oog gegooi en sy verskonings is swak.

Cherokee ·

Mense is geweldig opstookbaar. Daar word gekyk na wat die meeste van die omgangers doen, en dieselfde rigting word gevolg. Dit gebeur by musiekopvoerings, politiek en selfs veronderstelde kalm debatte soos hierdie.

Alfred E Neuman ·

Lae klas sangers wat deur duisende aanbid word. Die mens se kudde mentaliteit verstom my.

Shakespeare ·

Sy foto vertel die hele verhaal. Hy moet van 10 mense se moord aangekla word. Skuim vd aarde.

Christi ·

‘Blood sacrifice’ dis wat dit was. Hy het heen en weer geloop op die verhoog en ‘chant’ toe mense besig was om dood te gaan…..down the rabbit hole you shall find all the answers…

Perdevy ·

Skuim van die aarde. Verstommend dat enigiemand so iets sou bywoon ????????‍♂️

Astrain ·

Kyk bietjie na @projectbetter se videos op TikTok waar die jong man vrae stel aan die Amerikaanse jeug…dis verby skokkend wat se lae IK hulle het. Ek het dit ook persoonlik ondervind toe ek deur die VSA backpacking gedoen het. Hulle leef op planeet America!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.