Hond ry met motor in winkel vas

Die hond wat met die motor in die Walmart vasgery het (Foto: Skermskoot uit WSAZ-video)

Die hond wat met die motor in die Walmart vasgery het (Foto: Skermskoot uit WSAZ-video)

ʼn Hond het Vrydag met ʼn motor in ʼn Walmart vasgery in Wayne, Wes-Virginia in Amerika.

ʼn Ooggetuie het aan WSAZ gesê sy het voor die winkel gestaan toe sy gesien het ʼn motor beweeg uit die parkeerruimte in haar rigting. Die motor het glo stadig op haar afgery gekom en sy het aanvanklik gedink die bestuurder is dalk iemand wat sy ken wat ʼn grap probeer maak.

En toe sien sy dis ʼn hond agter die stuur.

Die vrou het padgegee en die motor het in die winkel vasgery.

ʼn Tweede hond was in die passasiersitplek en kon glo ná die ongeluk boonop die venster afrol.

Die winkel het die eienaar van die motor ontbied – glo ʼn vrou in haar laat 70’s.

Die motoreienaar het gesê sy het die motor laat luier terwyl sy in die winkel ingegaan het, sodat die honde koel kan bly, en die hond moes op ʼn manier die outomatiese ratkas uit “parkeer” gehaal het.

ʼn Werknemer van die winkel het gesê die honde is nie beseer nie en daar is geringe skade aan die winkel en die motor.

Die polisie van Wayne County is ontbied.

Die eienaar kon ná die voorval met haar motor wegry.

Bron en video: WSAZ

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Penellope Jones ·

Ounooi, dalk nog ‘n bestuursles of twee dan is jy reg vir die lang pad!

Maria van Dieweeck ·

Lieflike diertjie storie, veral dat die tannie sommer vir hulle lugreeling aan los! Ek sou my flou lag as ek dit moes sien

Kallie du Plessis ·

Ek lees eerder sulke stories as die van al die ellende en verval. Ons het genoeg van al die slegte dinge wat die mens oral oor die aardbodem aanvang teenoor sy naaste en teenoor diere. Vol punte vir jou tannie en daar kan mens darem nog jou motor laat luier, waag dit om dit hier in SA te doen!

johann cb ·

Lekker lag ek nou! Dié hond is dalk een van Elon Musk se eksperimente!

Pieter ·

Was seker ‘n Hond_a. En my hond het ook lank gelede karre gejaag. Altyd gewonder wat doen hulle as hulle die kar gevang kry.

lynette ·

Dit was nou n oulike storie . Ek het my slap gelag . Mooi so woef dit sal jou nonna leer om jou in die kar te los .

Janine ·

Te oulik! In SA was die woefe en motor binne 3 sekondes gesteel.

Tina du Toit ·

Lekker gelag. Ek dink die eienaar moes haar agterent afgeskrik het. En die ander een so clever, draai sommer die ruit af. Ek sal julle 2 moet fyn dop hou, want dalk kry ek geen kar onder my afdak nie. Die bendes moet julle net nie kry om te help karre steel nie. Julle outjies heeltemal te slim, en is ook bly dat niemand seer gekry het nie. Die tannie vat ook groot kans om haar voertuig aan te los, want enige ou kon met hom weg gery het. Watch mooi tannie, daai honde gaan nog meer tricks uithaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.