Honderde bedreigde skilpaaie vrygelaat

Cantor-reuse-sagtedopskilpaaie (Foto: Megan English via Weird Animals, Twitter)

Honderde kritiek bedreigde baba-reuse-sagtedopskilpaaie is Maandag in die Mekongrivier in Kambodja vrygelaat ter viering van Wêreldskilpaddag.

Cantor-reuse-sagtedopskilpaaie is feitlik in hul habitat in Viëtnam en Thailand uitgeroei weens stropery en onwettige handel. Dié skilpadspesie is eers in 2007 in die Suidoos-Asiatiese gebied herontdek.

Die Natuurbewaringsvereniging in Kambodja het die vrylating van altesaam 580 broeilinge gekoördineer.

Hierdie broeilinge kan tot ’n lengte van 200 cm groei en leef hoofsaaklik in die sand en water. Hulle duik slegs twee keer per dag op om asem te skep.

Met die skilpaaie se vrylating het monnike eers dié babareptiele versorg voordat hulle in die modderige waters ingestuur is.

Die skilpaaie is deel van ’n groep van 982 skilpaaie wat as eiers gered is om hulle te beskerm teen die gevare wat die spesie se getalle bedreig. Daarna is hulle versigtig geïnkubeer, uitgebroei en toe vrygelaat.

Ken Sereyrotha, landprogramdirekteur vir die natuurbewaringsvereniging in Kambodja, het gesê aansienlike vordering is gemaak met die beskerming van die spesie in die land, maar meer werk is nodig.

“Hierdie spesie word bedreig deur onwettige jag en handeldrywery,” het hy gesê.

Die natuurbewaringsvereniging en Kambodja se departement van visserybewaring en -administrasie het vanjaar meer as 2 000 eiers gevind en gered. Die spanne hoop dat die res uiteindelik sal uitbroei.

Ouk Vibol, direkteur van die visserydepartement, het plaaslike belanghebbendes aangemoedig om voort te gaan met die bewaring van die skilpaaie en het belowe dat “diegene wat steeds met beskermde spesies handel dryf, regstappe kan verwag”.

Verlede jaar het die spanne daarin geslaag om sowat 1 300 broeilinge in die natuur te red en vry te laat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Janee ·

Vry te laat….vir hoe lank voordat dit weer uitgeroei word soos duisend ander spesies wêreldwyd…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.