Honderde dood wat alkohol as ‘kuur’ vir Covid-19 drink

Vrywilligers ontsmet Woensdag oppervlaktes in Ghaemshahr in die noorde van Iran. (Foto: Ebrahim Noroozi, AP)

Meer as 700 mense in Iran is oor die afgelope paar maande dood nadat hulle toksiese metanol gedrink het in die hoop dat dit hulle van Covid-19 sou genees.

Die owerhede het onthul dat 728 Iraniërs tussen 20 Februarie en 7 April weens alkoholvergiftiging omgekom het. Dít vergeleke met slegs 66 sterftes verlede jaar in Iran weens dieselfde oorsaak.

Die Irannese regering het onlangs in ʼn verslag gesê alkoholvergiftiging het tienvoudig toegeneem sedert die nuwe koronavirus in dié land uitgebreek het.  Altesaam 93 657 bevestigde gevalle Covid-19 en 5 957 verwante sterftes is tot op hede in Iran aangemeld.

Gerugte dat alkohol met sukses as kuur vir of teenmiddel teen die koronavirus gebruik kan word, het in Februarie en Maart soos ʼn veldbrand op Irannese sosiale media versprei.

Kianoush Jahanpour, woordvoerder van die Irannese ministerie van gesondheid, het gesê 5 011 mense in dié land het sedertdien alkoholvergiftiging opgedoen nadat hulle metanol gedrink het.  Sowat 90 mense is gevolglik hul sig kwyt of het permanente skade aan hul oë opgedoen weens alkoholvergiftiging.

Metanol kan nie in drankies geruik of geproe word nie.  Die inname van metanol veroorsaak vertraagde orgaan- en breinskade.  Simptome sluit in pyn op die bors, naarheid, hiperventilasie en blindheid.  Pasiënte kan selfs in ’n koma verval.

Die Irannese regering het nou vervaardigers van toksiese metanol opdrag gegee om kunsmatige kleursel by hul produkte te voeg sodat die publiek dit kan onderskei van etanol, die soort alkohol wat gebruik kan word om wonde skoon te maak.

Bronne: Aljazeera, TIME Magazine

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Niklaas ·

Soveel mense oorlede a.g.v. die volging van duidelike fopnuus op sosiale media . Laat my net wonder of daar mense is wat perferse genot put uit die plasing van onverantwoordelike brokkies snert , wat soms (soos blykbaar in hierdie geval) , kan lei tot sterftes. Mens kan net jou kop skud.

Anel ·

Moennie die lot hier vergeet wat alles glo wat die sangomas hulle vertel nie. Kom maar op dieselfde neer. Kan maar net lag vir die mense wat veronderstel is om meer as 1 breinsel te hê.

Cherokee ·

Iemand sal aan die ANC-regering moet verduidelik hulle verstaan die berigte uit Iran heel verkeerd en het nie nodig om die verkope van alkohol in Suid Afrika te verbied nie. Hul kommer is misplaas.

LIEZL ·

Ja nee, wraggies, Cherokee. Mens kry maar dom onnoseles..geen raad of pille nie. Gee hul miskien n glasie om op te klink

Strandloper ·

Dit blyk n heel ander uitwerk hier by ons te hê, naamlik breindood. N goeie voorbeeld was gister aand se nuus…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.