Honderde huise in Colorado-brande verwoes

ʼn Huis brand in Louisville, Colorado (30 Desember 2021) (Foto: Marc Piscotty/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Honderde huise is verwoes in ʼn brand in Colorado in die VSA, het beamptes Donderdag gesê.

Minstens 650 hektaar het reeds in Boulder County afgebrand, hoofsaaklik in stedelike gebiede, met waarskuwings dat sterftes en beserings aangemeld sal word waar die brand deur hotelle en winkelsentrums in Superior versprei het.

“Ons weet dat ongeveer 370 huise in Sagamore reeds verwoes is. Daar is ʼn moontlikheid dat 210 huise in Old Town Superior verwoes is,” het Joe Pelle, sheriff van Boulder County, tydens ʼn perskonferensie gesê. “Die Target-winkelsentrum brand in Superior; die Element-hotel is heeltemal in vlamme gehul. Weens die omvang en intensiteit van die brand en omdat dit in ʼn digbevolkte gebied versprei het, kan ons nie die moontlikheid van sterftes of beserings uitsluit nie.”

Die Colorado Sun-koerant het berig verskeie mense is reeds vir brandwonde behandel. Minstens ses pasiënte is in een hospitaal opgeneem.

Beeldmateriaal deur CBS wys ʼn woonstelkompleks wat brand terwyl brandbestryders spook om dit onder beheer te kry.

ʼn Video op Twitter wys ʼn brand in ʼn parkeerterrein waar bome en gras gebrand het, aangevuur deur sterk wind.

Duisende inwoners is aangeraai om van die brand, wat vinnig versprei, te vlug. Dit het vermoedelik ontstaan toe kragpale omgewaai is.

Uitgebrande voertuie in Louisville, Colorado (30 Desember 2021) (Foto: Marc Piscotty/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Patrick Kilbride (72) het by ʼn hardewarewinkel gewerk toe hy die ontruimingsbevel hoor, het die Denver Post berig. Hy het huis toe gejaag om sy besittings te gaan haal, maar kon nie enigiets anders buiten sy motor, en die klere aan sy lyf red nie. Sy hond en kat het in die brand omgekom. “Dis alles tot as verbrand,” sê hy van die huis waarin hy drie dekades lank gewoon het. “Dis nie ʼn huis nie. Dit is net die kaggel se skoorsteen wat bly staan het. Dis ʼn vreemde gevoel – mens het alles wat jy nodig het om gemaklik te leef, en die volgende oomblik het jy niks nie.”

Louisville, met 20 000 inwoners, en Superior, met 13 000 inwoners, is ontruim. Die nasionale weerdiens het die situasie as “lewensgevaarlik” beskryf.

Rukwinde van tot 160 km/h is in sommige plekke aangemeld. Dit bemoeilik brandbestrydingspogings en verhoed brandbestrydingsvliegtuie om op te styg.

ʼn Broomfield-polisiebeampte in Superior, Colorado (Foto: Broomfield Police Departement/AFP)

Colorado-goewerneur Jared Polis het ʼn noodtoestand aangekondig. “Anders as vorige brande in die staat, wat in landelike gebiede plaasgevind het, versprei hierdie brand waar mense woon. Dis soos die buurt waar jy bly. Dis die buurt waar enigeen van ons sou bly. ʼn Brand van 650 hektaar naby ʼn stedelike sentrum is absoluut verwoestend.”

Soos meeste van Amerika se weste, is Colorado in die greep van ʼn jare lange droogte wat die gebied veral kwesbaar maak vir veldbrande. Brande is deel van die natuurlike klimaatsiklus, maar die omvang en intensiteit neem al hoe meer toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.