Honderde in Australië vas tydens Covid-betogings

Betogers met plakkate in Sydney (21 Augustus 2021) (Foto: David Gray/AFP)

Honderde mense is Saterdag in Australië in hegtenis geneem tydens gewelddadige botsings tussen betogers teen afsonderingsregulasies en die polisie. Die land het sy grootste toename in daaglikse gevalle aangeteken sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie.

New South Wales het 825 nuwe gevalle aangeteken – ʼn rekord vir die hele land – ʼn dag ná owerhede die stad se afsonderingsperiode tot minstens September verleng het in ʼn poging om die Delta-variant af te weer.

“Dit maak nie saak hoe hard ons werk nie – dit maak nie saak of 99% van mense die regte ding doen nie, daar is ʼn element van Delta wat niemand kan beheer nie,” het premier Gladys Berejiklian aan verslaggewers gesê. “Die beste manier hoe ons na vryheid kan uitsien, is om seker te maak dat ons ingeënt word.”

ʼn Verhoogde uitbreking in Victoria het ook veroorsaak dat tuisbly-bevele verleng is in die hele staat.

Duisende het egter aan ʼn optog deelgeneem teen die afsonderingsregulasies. Die polisie moes van pepersproei gebruik maak in gewelddadige botsings met betogers.

Sewe beamptes is beseer en meer as 200 mense is in hegtenis geneem tydens die “gewelddadige en onwettige betoging”, het die Victoria-polisie in ʼn verklaring gesê. “Alhoewel daar sommige betogers was wat vreedsaam opgetree het, het die meerderheid geweld in gedagte gehad.”

In Sydney het meer as 1 500 polisiebeamptes in die strate ingevaar, padblokkades opgestel en ongeveer 250 mense in hegtenis geneem, het New South Wales-polisie gesê.

Groot skares het ook bymekaargekom tydens ʼn betoging in Brisbane.

Afsonderingsregulasies het laat in Junie in werking getree in Sydney en die beperkings strek nou oor twee state en raak meer as 15 miljoen mense. Minder as ʼn derde van Australië se bevolking is ten volle ingeënt. Landswye inentingsveldtogte is die afgelope paar weke opgeskerp en die leiers het ʼn teiken van 70% gestel voor afsonderingsregulasies verslap kan word.

Sydney se uitbreking word ook verbind met ʼn geval wat ʼn nasionale afsondering in Nieu-Seeland tot gevolg gehad het.

Australië het meer as 42 000 gevalle in ʼn bevolking van meer as 25 miljoen aangeteken sedert die pandemie begin het, met 974 sterftes weens Covid-19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.