Honderde in Houston gered

Orkaan Harvey (Foto: AP Photo/Eric Gay)

Reddingswerkers het Sondag reageer op honderde desperate hulpkrete toe vloedwater van Orkaan Harvey hoog genoeg gestyg het om selfs dubbelverdiepinghuise te oorstroom.

Owerhede maan gestrande families om veiligheid op hul dakke te soek.

ʼn Vloot helikopters, bote en hoogwatervoertuie het die vloedwater getrotseer en owerhede het intussen die gebiede, wat die ergste hierdeur geraak is, geïdentifiseer. Reddingsbeamptes het te veel oproepe ontvang om op elkeen te reageer en moes lewe-en-dood-situasies prioritiseer.

“Dit breek mens se hart,” het Jason Spencer, woordvoerder van die sheriff se kantoor in Harris County, gesê.

Sheriff Ed Gonzalez het van Twitter gebruik gemaak om bystand te ontbied vir diegene wat in hul huise, solders en voertuie vasgekeer is. Een van die vroue het op Twitter geskryf: “Ek het twee kinders by my en die water is besig om ons in te sluk.”

Beamptes het inwoners gemaan om nie in hul solders in te kruip nie, maar eerder bo-op die dak te kom. Die kuswag het mense aangemoedig om lakens of handdoeke rond te swaai om aandag op hulself te vestig.

Twee woonstelblokke in Greenspoint is deur die aand ontruim en meer as 50 kinders is uit die vloedwater gered.

Art Acevedo, polisiehoof in Houston, het in middelhoogte water gestaan tydens ʼn regstreekse uitsending en gesê: “Dis Texas, ons sal hierdeur kom.”

Meer as 100 mm reën per uur het daartoe gelei dat die watervlakke hoër is as enige ander onlangse vloed en is hoër as tydens Tropiese Storm Allison in Junie 2001, het Jeff Linder, van die vloedbeheerdistrik in Harris County, wat Houston insluit, gesê.

Owerhede het mense met bote en brandstof versoek om hulle te help om inwoners te red, het KPRC-TV in Houston Sondagoggend berig.

Vullistrokke en munisipale busse word gebruik om inwoners na hoër gebiede te vervoer.

Die kuswag, wat meer as 300 oproepe om hulp ontvang het, het vyf helikopters ontplooi en bykomende vliegtuie van New Orleans versoek.

Die reddingspogings volg ʼn dag ná die orkaan die Texas-kuslyn getref het. Minstens twee persone is reeds dood en 14 beseer. Ongeveer 300 000 persone het nie tans elektrisiteit nie. Goewerneur Greg Abbott het gesê dit kan ʼn paar dae duur voor die kragtoevoer herstel is.

Die orkaan het Vrydag ongeveer 48 km noordoos van Corpus Christi die land getref. Dit is geklassifiseer as ʼn kategorie 4-storm met winde van tot 209 km/h. Galveston het reeds 200 mm reën gehad, Houston 280 mm, Aransas 250 mm en Austwell 380 mm.

Die orkaan is Saterdag tot ʼn tropiese storm afgegradeer.

Pres. Donald Trump het Sondagoggend op Twitter laat weet dat hy Texas sal besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wonder maar net. ·

Ek wonder maar net wat sou hier ter plaatse gebeur het indien so ‘n natuurramp ons sou tref.

Dafer ·

Alle strukture is Suid Afrika se dakke is ontwerp om sekere windkragte te kan weerstaan. Die ontwerp voorsien vir verskillende kragte, aangesien party geboue ‘belangriker’ is as ander geboue. Hospitale is byvoorbeeld belangriker as klubhuise.
Al die geboue in Suid Afrika se dakke het nog nie afgewaai nie, slegs omdat die regte wind nog nie gewaai het nie.
Maar waai, gaan hy waai! Daai wind – een of ander tyd.
So een of ander tyd GAAN ons natuur-rampe belewe!!!

Bietjie bietjie ·

Wat probeer jy nou sê ?
Wil jy nou almal op gereedheids grondslag kry met jou insetsel ?
Mooi gepraat !

Corna ·

Ons probeer so veel as moontlik voorbereid te wees voor die storms. Maar jy kan die spanning in die lug voel. Ons buurt en skole is oorstroom. Somige mense het alles verloor. Die reën val alweer by ons. Ek bid net dit bly uit ons huis.

Frikkie ·

Dafer, jy maak ‘n stelling wat jou met ‘n rooi gesig kan laat. daar is dak konstruksies wat glad nie voldoen aan die nodige SANS 10400 vereistes nie. Jou nedersettings het feitlik geen strukture nie.”planke en sinke”. wat gaan jy doen as hulle jou aan haal op jou mening soos wat die amerikaners maak, as een van hulle dakke in gee. vra net :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.