Honderde kinders sterf glo weens hoesstroop

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Maandag vir “onmiddellike en gekoördineerde optrede” teen substandaard- en vervalste medisyne oor die hele wêreld heen gevra ná die dood van 300 kinders weens besmette hoesstroop.

Minstens sewe lande het oor die afgelope vier maande voorvalle aangemeld weens hoesstroop wat  oor die toonbank gekoop en aan kinders toegedien is. Meer as 300 verwante sterftes is in drie van dié lande – Gambië, Indonesië en Oesbekistan – aangemeld.

Die meeste van die sterfgevalle was jong kinders onder die ouderdom van vyf.

Die WGO sê die betrokke hoesstroop word in Indië vervaardig en bevat hoë vlakke van dietileenglikol en etileenglikol – giftige chemikalieë wat as industriële oplosmiddels en vriesmiddels gebruik word.

Die chemikalieë is dodelik selfs al sou iemand net ’n klein hoeveelheid daarvan inkry en “moet nooit in medisyne aanwesig wees nie”, waarsku die WGO.

Die VN-gesondheidsagentskap het aanvanklik in Oktober ’n waarskuwing uitgereik ná die dood van ’n kind in Gambië. Nog ’n sterfte is ’n maand later in Indonesië aangemeld, terwyl die jongste sterfte vandeesmaand in Oesbekistan aangeteken is.

Die waarskuwings is spesifiek uitgereik met betrekking tot hoesstroop wat deur die Indiese maatskappye Marion Biotech en Maiden Pharmaseutical vervaardig en met die sterftes verbind is.

Die VN het aanvanklik net versoek dat lande hul pogings verskerp om enige besmette medikasie uit sirkulasie te verwyder. Die organisasie het egter Maandag beklemtoon dat die sterftes nie geïsoleerde voorvalle was nie en dat onmiddellike en gekoördineerde optrede nodig is.

Reguleerders en regerings is ook versoek om enige substandaard-medikasie of sodanige mediese produkte uit te ken en onmiddellik te verwyder.

“Hulle moet ook verseker dat alle mediese produkte wat verkoop word deur die nodige owerhede goedgekeur en deur gelisensieerde verskaffers verskaf is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.