Honderde koalas dalk dood in Australiese veldbrande

Daar word gevrees dat honderde koalas moontlik in die veldbrand omgekom het. (Argieffoto: Rob Griffith/AP)

Natuurbewaarders vrees dat hondere koalas moontlik doodgebrand het in veldbrande wat hul beste habitat aan Australië se Ooskus verwoes het.

Die president van die Port Macquarie-koalahospitaal, Sue Ashton, sê sy hoop bewaarders word binnekort toegelaat om ʼn soektog in die brandsone na moontlike oorlewende diere te begin.

Die brand het Vrydag ná weerlig uitgebreek in ʼn woud in die staat Nieu-Suid-Wallis. Dit is sowat 300 km van Sydney. Nagenoeg 2 000 ha het reeds onder die vlamme deurgeloop.

Twee derdes van dié gebied was koalahabitat.

“As ons kyk na ʼn 50%-oorlewingskoers, is dit nagenoeg 350 koalas. Dit is absoluut verwoestend,” het Ashton oor dié syfer gesê.

“Ons hoop dis nie só erg nie, maar weens die intensiteit van die vlamme en koalas se gedrag tydens ʼn brand, het ons nie veel hoop nie.”

Koalas klouter tydens ʼn brand tot hoog in bome. As die brand vinnig verbybeweeg, oorleef hulle.

Die betrokke koalakolonie is geneties besonder uiteenlopend, en so is die kondisie van die diere ook, het Ashton gesê. Koalas verkies kuswoude wat deesdae toenemend ontbos word om plek te maak vir stedelike uitbreiding. Afgeleë kolonies sukkel ook al hoe meer met inteling en siektes.

Australië se veldbrandseisoen het ʼn vroeë en verwoestende begin gehad. Dit word toegeskryf aan bogemiddeld hoë temperature en ondergemiddelde reënval wat groot dele van die Ooskus in droogte gedompel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Hartseer – mag hieruit positiewe nuus kom, hopelik het baie meer oorleef as wat verwag word.

jean ·

Ag jitte tog!…Ons hou duime vas…sal graag wil weet in toekomstige berigte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.