Honderde olifante vrek in Botswana

Argieffoto van olifante in die Chobe Nasionale Park in Botswana. (Foto: AP Photo/Charmaine Noronha/File)

Honderde olifante het oor die afgelope twee maande in die noorde van Botswana gevrek. Volgens die plaaslike regering is daar boonop geen verklaarbare rede hiervoor nie.

Dr. Niall McCann, verbonde aan die Britse liefdadigheidsorganisasie National Park Rescue, het verduidelik dat kollegas in Botswana sedert die begin van Mei meer as 350 olifantkarkasse in die Okavango-delta opgemerk het.

Volgens McCann het natuurbewaarders die regering vroeg in Mei van die probleem ingelig nadat hulle ’n vlug oor die delta onderneem het. “Hulle het 169 karkasse gedurende ’n vlug van drie uur opgemerk,” het McCann gesê.

“Dit is ongekend in terme van die aantal olifante wat in ’n enkele gebeurtenis vrek wat nie met droogte verband hou nie,” het hy verduidelik.

Sowat 70% van die olifante het naby ’n watergat inmekaargesak.

Die plaaslike regering het sedertdien gesê toetsmonsters is van die karkasse geneem om te bepaal wat die vrektes veroorsaak. Die monsters sal egter na verwagting nog weke lank in laboratoriums ontleed word voordat die uitslae beskikbaar sal wees.

Die regering het reeds in Mei die moontlikheid van stropery uitgeskakel aangesien die olifante se tande nie verwyder is nie. McCann het op sy beurt natuurlike miltsiektevergiftiging voorlopig uitgeskakel. Minstens 100 olifante in Botswana het verlede jaar weens miltsiektevergiftiging gevrek.

Volgens McCann kan vergiftiging of siekte egter nie uitgeskakel word nie aangesien plaaslike ooggetuies sommige olifante in sirkels gesien loop het. Dit is ’n aanduiding van neurologiese inkorting, het hy verduidelik.

“As ’n mens na die karkasse kyk, het sommige van hulle reg op hul gesig geval, wat daarop dui dat hulle baie vinnig gevrek het. Ander vrektes was ooglopend stadiger, soos dié wat eers rondgedwaal het.”

Botswana is die tuiste van sowat ’n derde van Afrika se olifantbevolking.

Bronne: BBC, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kobus ·

En waar word die Ivoor wat van die dooie Olifante af gehaal word gestoor? Dink dit moet diep en ver weg gebere word, Skelms raak ook slimmer met tyd. Makliker om ‘n Stoor te gaan roof vir Ivoor as om in die veld ‘n kans te vat…..

Adri ·

Ek was ‘n paar jaar terug in Botswana en het ‘n dag in Chobe spandeer. Nog nooit so baie olifante gesien nie – wat ‘n ondervinding. Merkwaardige diere. Hierdie maak my baie hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.