Honderde ontvoerde Nigeriese skoolseuns gevind

Die seuns kom in Katsina aan nadat hul vrylating bewerkstellig is. Foto: Kola Sulaimon/AFP

Honderde Nigeriese skoolseuns wat verlede week ontvoer is, is Vrydag met hul ouers herenig nadat hulle gered is.

Die seuns, vuil en die meeste sonder skoene, is na die goewerneurskantoor in Katsina gebring nadat hulle laat Donderdag vrygelaat is. Aminu Masari, goewerneur van Katsina, het gesê die seuns is getraumatiseerd.

Kommer heers intussen dat baie ander seuns steeds gevangene gehou word. Gewapende mans het die seuns op 11 Desember by ’n skool in Kankara ontvoer. Boko Haram, die djihadiste groep wat 276 skoolmeisies in 2014 in Chibok ontvoer het, het ook vir dié massa-ontvoering verantwoordelikheid aanvaar.

’n Bron in die veiligheidsmagte, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het gesê dat die seuns in ’n woud agtergelaat is na onderhandelinge tussen die owerhede en die ontvoerders, maar geen verdere besonderhede gegee nie.

“Dit is ’n groot verligting vir die hele land en die internasionale gemeenskap,” het president Muhammadu Buhari op Twitter gesê.

Dit is egter steeds onduidelik of al die ontvoerde skoolseuns vrygelaat is aangesien daar onsekerheid is oor die aantal seuns wat ontvoer is.

In ’n video wat Boko Haram Donderdag uitgereik het, het ’n tienerseun gesê hy is een van 520 seuns wat ontvoer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.