Honderde sterf tydens aardbewings in 2016

Van die skade in Amatrice, Italië op Woensdag, 24 Augustus 2016. Foto: AP Photo

Van die skade in Amatrice, Italië op Woensdag, 24 Augustus 2016. Foto: AP Photo

Bykans 900 mense het reeds vanjaar in aardbewings gesterf. Volgens die jongste berigte is minstens 63 mense tydens die jongste skudding van 6,2 en naskokke in Italië se Umbrië-provinsie dood.

Intussen het ʼn nog sterker aardbewing van 6,8 Woensdag in Mianmar voorgekom. Dié aardbewing het egter 84,1 km onder die aardoppervlak voorgekom en 25 km van die naaste nedersetting. Tot dusver is een sterfte aangemeld, terwyl verskeie plekke van aanbidding beskadig is.

Die grootste aantal sterftes tydens ʼn aardbewing hierdie jaar was 637 toe ’n skudding van 7,8 op die momentmagnitudeskaal Ecuador op 16 April getref het. Die tweede meeste sterftes was 117 ná ’n skudding van 6,4 in Taiwan op 6 Februarie. Altesaam 42 mense is dood toe ’n skudding van 7,0 Japan op 15 April getref het. In Indië is 11 mense ná ’n skudding van 6,7 op 3 Januarie dood.

Daar was vanjaar reeds tien aardbewings van 7 of meer, wat tot dusver op ’n gemiddelde jaar van sterk aardbewings dui. In slegs twee van dié aardbewings wat 7 of meer gemeet het, is sterfgevalle aangemeld.

Dit is egter nie vreemd dat swakker aardbewings lewens, en selfs heelwat lewens kan eis nie. Swak bouwerk, die diepte onder die oppervlak, die ligging van die episentrum, die bodemformasie en verskeie ander faktore speel ʼn rol.

Die Italiaanse aardbewings was betreklik na-aan ’n groot verskuiwingsvlak wat deur die Middellandse See vertak en langs Italië se Adriatiese kus tot in die Alpe loop. Italië loop betreklik dikwels onder aardbewings in die omgewing van 6,0 deur wat weens swak bouwerk op die platteland tot lewensverlies lei. In 2009 het byna 300 mense omgekom toe ’n aardbewing van 6,3 die dorpie L’Aquila getref het. Tienduisende huise is vernietig. L’Aquila is sowat 100 kilometer suid van die jongste, sterkste skudding se episentrum.

Die skudding in Italië was byna 100 keer swakker as die grote in Ecuador.

Trouw, USGS significant earthquakes, Maroelamedia,  Wikipedia death toll, USGS earthquakes update

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Santjie stoof ·

Dankie Vader vir nog n dag wat U aan my geskenk het.
Ons bid vir hulle wat getraumatiseer is tydens hierdie ramp.

KarooKlong ·

Stem met jou saam.
Dit moet erg wees om so verwoesting deur te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.