Honger beer plunder dosyne huise

Hank the Tank het die afgelope sewe maande amok in Kalifornië gemaak (Foto: Twitter)

Die polisie in Kalifornië, VSA, is op die spoor van ʼn swart beer wat die afgelope sewe maande by sowat 40 huise in die Lake Tahoe-woonbuurt op soek na kos ingebreek het.

CNN berig dié hongerige beer het reeds skade aan sowat 33 eiendomme aangerig en by minstens 28 huise ingebreek.

Dit blyk dat hierdie massiewe swart beer van byna 227 kg – wat bekend staan as “Hank the Tank” – sy winterslaap oorgeslaan het weens ʼn deurlopende beskikbaarheid van voedselvoorraad wat hy by huise gebuit het.

BBC berig die beer het op sy gemak met mense in die nabyheid begin raak en verskeie wildgroepe vra dat hy eerder na ʼn toevlugsoord verplaas moet word.

Peter Tira, woordvoerder van die departement van vissery en wildlewe in Kalifornië, sê die beer het geleer om sy grootte en krag te gebruik om by huise in te breek. “Hy sal deur motorhuisdeure, vensters of voordeure breek om by die huis in te kom,” sê Tira.

Volgens Tira het Hank nog geen mens of dier aangeval nie.

Die polisie het al die beer in sy spore probeer stuit deur van ʼn soort rubberkoeël, sirenes en selfs ʼn skokstok gebruik te maak, maar tot die polisie se spyt het dit nie gewerk nie.

Die Bear League, ʼn plaaslike wild-voorspraakgroep, sê swart bere weeg gemiddeld tussen 45 kg en 136 kg en volgens die groep kan Hank se abnormale grootte toegeskryf word aan die groot hoeveelheid menskos wat hy inkry. Swart bere se gewone dieet bestaan uit miere en bessies, terwyl Hank daagliks smul aan gemorskos – van pizza tot roomys.

Die groep vra dat Hank na ʼn toevlugsoord gestuur word in plaas daarvan om doodgemaak te word. “Inwoners van Lake Tahoe moet ook meer waaksaam wees en hul kos en rommel beveilig,” sê die groep.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Martin ·

Dit kom nou van te veel Amerikaanse McDonald’s eet. As ek soos hy gelyk het sou ek ook seker gesmul het aan al die lekker kos in die omtrek. Snaaks dat daar so baie buitelandse strooi nuus is wat geensins van belang is nie, pleks dat hulle nuus insit van hoe korrup ons regering is, misdaad statistieke in SA en wat ons regering doen om misdaad hok te slaan en werkskepping te skep in SA.

Antjiepat ·

Ag nee man Martin, dan sal ek heeltemal verslaaf aan koffie raak man! Dis baie beter vir my gemoed om van die swart beer te lees ;)

piet ·

Ons kry genoeg negatiewe stories, dankie. Al die korrupsie-stories is so algemeen en raak ook al afgesaag.

Henri ·

Om te veel van ons plaaslike korrupsie, onbevoegdheid en misdaad te lees is ook nie goed nie, soos die te veel pizza, roomys en gemorskos sleg is vir Hank. My Oupa het altyd gesê alles met ‘n TE voor aan is sleg, behalwe TEvrede, TE perd en TEmatie…

Kirst ·

Dis juis omdat daar so min negatiewe nuus in Westerse lande is dat hulle oor sulke goed berig kan doen. En moenie glo hulle gee ‘n blou duit om oor wat met ons hier gebeur nie. Ons is mos nie ‘n minderheid vir wie jy hoef jammer te voel nie. Ons moet ook waak daarteen om te dink iemand moet ons jammer kry. Ek lewe baie lekker hier dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.