Hongkong plaas verbod op ivoorverkope

Inwoners loop verby ʼn ivoorwinkel in Hongkong se Yau Ma Tei-gebied wat weens die wetsontwerp gesluit is (31 Desember 2021) (Foto: Bertha Wang/AFP)

ʼn Verbod op die verkope van ivoorprodukte het Vrydag in Hongkong in werking getree. Dit volg ná ʼn drie jaar lange proses om die eens florerende mark in die stad te elimineer.

Wetmakers het in 2018 ʼn wetsontwerp ondersteun dat ivoorhandel geleidelik uitgefaseer moet word. ʼn Paar natuurbewaarders het in daardie stadium die wetsontwerp veroordeel as ʼn skuiwergat wat uitgebuit kan word.

Die stad word daarvan beskuldig dat hy ʼn oordrewe rol speel in die bedryf. ʼn Verslag in 2019 deur ʼn plaaslike bewaringsgroep het gesê Hongkong is verantwoordelik vir ongeveer ʼn vyfde van alle ivoor-klopjagte die afgelope dekade.

Rye kopers is op die vooraand van die verbod opgemerk buite winkels wat die produk in die Sheung Wan-distrik verkoop, aldus plaaslike mediaberigte.

Vrydag se nuwe reëls verbied die invoer, heruitvoer en kommersiële besit van olifant-ivoor. Daar is ʼn uitsondering op antieke ware wat dateer voor 1925.

Oortreders kan ʼn maksimum boete van HK$10 miljoen (sowat R20 miljoen) en 10 jaar tronkstraf opgelê word.

Hongkong floreer as ʼn groot deurgangspunt vir die onwettige handeldryf met bedreigde diere soos olifante, renosters en ietermagogge.

Owerhede het in 2017 die grootste ivoor-klopjag in drie dekades uitgevoer toe 7,2 ton olifanttande ter waarde van ongeveer $9 miljoen gevind is. Nóg 2,1 ton is in 2019 gevind ná die uitfaseringsproses begin het.

Afrika-ivoor is ʼn gesogte statussimbool in China en kan tot $1 100 (byna R8 000) per kilogram haal. China se eie verbod op die ivoorhandel is al sedert 2018 in werking.

ʼn Woordvoerder vir Hongkong se departement van landbou, visserye en bewaring, het gesê die regering is “verbind tot die beskerming van bedreigde spesies, insluitend olifante”. Hongkong het in Augustus ʼn wet goedgekeur wat handeldryf met wild klassifiseer as georganiseerde misdaad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.