Hoof van TikTok bedank kort ná aanstelling

TikTok se logo. (Foto: AP)

Die Amerikaanse sakeman Kevin Mayer het na net drie maande as uitvoerende hoof van TikTok bedank. Mayer se bedanking kom te midde van volgehoue druk van die Amerikaanse regering op dié Chinese kortvorm-video-app.

Mayer het in ʼn brief aan sy personeel gesê hy het besluit om te bedank nadat die “politieke omgewing skerp verander het”.

Maroela Media het in Julie berig die Trump-administrasie oorweeg dit om Amerikaners se toegang tot TikTok te beperk. Dit volg ná kommer dat Beijing die app sou gebruik om onregmatig op verbruikers te spioeneer.

“Ek het goed nagedink oor wat die strukturele veranderinge in die onderneming sal vereis en wat dit beteken vir die globale rol waarin ek myself begewe het,” het Mayer in die brief aan die personeel gesê.

Kevin Mayer (Foto: AP Photo/Damian Dovarganes, File)

Mayer, voorheen betrokke by Disney, het so onlangs as Mei by TikTok as uitvoerende hoof aangesluit.

TikTok het Mayer Donderdag vir sy diens bedank. “Ons besef dat die politieke dinamiek van die afgelope paar maande die omvang van Kevin se rol vorentoe aansienlik verander het en respekteer sy besluit ten volle,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê.

Volgens Mike Pompeo, die VSA se minister van buitelandse sake, word verbruikers se inligting na bewering aan die Chinese regering in Beijing beskikbaar gestel. Pompeo het gesê die VSA beoog tans om Chinese tegnologie plaaslik en in lande wat bande het met Amerika, te laat verbied.

TikTok dring egter daarop aan dat hy nié verbruikersdata met die Chinese regering deel nie en noue bande met die VSA het. Microsoft beoog nou om TikTok in die VSA te koop.

App Annie, wat selfoondatamonitor, sê TikTok was die gewildste app in die eerste kwartaal van die jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

johanf ·

Waar politiek betrokke raak, is dit ń gemors. Ek sou ook bedank het……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.