Hoop vir Namib se laaste wilde perde

woenstyn-perde-van-die-namib

Die wilde perde van die Namib staan op die randjie van uitwissing. Die droogte en ‘n trop gevlekte hiënas plaas ekstra druk op die kwynende perdebevolking. Foto:
NamibiaWildHorses/Facebook.

Wilde perde in die Naukluft Nasionale Park in Garub, Namibië, staan op die randjie van uitwissing en sal binnekort na ʼn veiliger habitat verskuif word om hierdie rare verskynsel van die Namibiese woestyn te red.

Volgens die Namibiese stigting vir Wilde Perde (Namibia Wild Horses’ Foundation – NWHF) het die droogte, wat Suider-Afrika tans teister, migrerende wild van die noorde en ooste van die land gedryf na groener weivelde in die suide en dit is hier waar ʼn trop gevlekte hiënas nou hoofsaaklik jag op die perde in die Garub maak. Dit plaas ekstra druk op die kwynende perdebevolking, wat tans net uit 128 perde bestaan. Geen nuwe vulletjies het sedert 2013 oorleef nie en die trop het net 39 merries oor, berig die Facebook-blad Informanté. Die hiënas vang tans omtrent elke derde dag ʼn perd en die stigting is bevrees dat die trop teen hierdie tempo teen so vroeg as Augustus kan uitsterf.

Na verskeie berigte oor die lot van die wilde perde en ʼn dringende beroep van die publiek dat die perde gered moet word, het die NWHF saam met die Namibiese departement vir omgewingsake besluit om die trop perde na ʼn veiliger habitat, weg van die hiënas, te skuif. Die NWHF is nou op soek na ʼn stuk grond waarheen die perde geskuif kan word sodat hulle steeds naby die Garub is, waar die diere die laaste 100 jaar al leef.

Volgens die NWHF is dit belangrik dat die publiek toegang tot die perde het, aangesien die trop een van die top tien toeriste aantreklikhede in die land is. Die stigting is ook afhanklik van donasies om die perde te hervestig en het reeds 1,5 miljoen Namibiese dollar van internasionale en nasionale donateurs ontvang vir voer om die trop tydens die droogte te onderhou.

woenstyn-perde-van-die-namib-ou-foto

Die herkoms van die wilde perde van Namibië sal seker vir altyd ‘n geheim bly, maar daar bestaan verskeie teorieë. Foto: NamibiaWildHorses/Facebook.

Die oorsprong van die Namib se wilde perde is onbekend, maar volgens Wikipedia is daar verskeie teorieë oor die perde se herkoms. Volgens een teorie het ʼn vragskip met volbloed Arabiese perde onderweg na Australië naby die mond van die Oranjerivier gestrand. Die sterkste perde het uitgeswem en hulle op die Garub-vlaktes gevestig. Nog ʼn teorie voer aan die perde is ʼn kruising van die Kaapse perd of Basotho-ponie van die Khoi-khoi, maar die waarskynlikste teorie is dat die Namib se wilde perde ʼn kombinasie van ontsnapte Suid-Afrikaanse militêre perde en Namibiese geteelde Duitse perde is.

Die Duitse Baron von Wolf, wat die Duwisib-kasteel op die rand van die Namib-woestyn gebou het, het ʼn trop van 300 perde gehad. Wolf is dood in die Eerste Wêreldoorlog in Europa en die perde op sy plaas is net so gelaat om rond te dwaal op onomheinde grond, relatief naby aan die plek waar die wilde perde vandag nog woon.

Die genetiese bewyse van ʼn studie wat in 2001 gedoen is, het egter getoon die perde is eerder afstammelinge van volbloed Arabiese perde, as die Hackneys en Trakehners wat Wolf in sy teelprogram gebruik het. Verdere navorsing uit die argief van teelprogramme voor 1914 en bloedstudies toon die wilde perde is afstammelinge van volbloed rydiere en nie werkperde nie.

woenstyn-perde-van-die-namib-voer

Die stigting het reeds 1,5 miljoen Namibiese dollar van internasionale en nasionale donateurs ontvang vir voer om die trop tydens die droogte te onderhou Foto: NamibiaWildHorses/Facebook.

Nog ʼn studie, wat in 2005 gedoen is, toon die Namibiese woestynperde kan ʼn kruising tussen Europese teelperde en ontsnapte militêre perde wees. Nog ʼn bron van die teelperde is ʼn stoetplaas naby Kubub, wat aan die voormalige burgemeester van Lüderitz, Emil Kreplin, behoort het tussen 1911 en 1919. Foto’s van die stoet skouperde uit hierdie tydperk lyk baie soos die wilde perde van vandag. Daar word gereken die militêre perde is verwilder deur bomme wat Duitse vliegtuie tydens die Eerste Wêreldoorlog op Suid-Afrikaanse kampe gegooi het. Die ontsnapte weermagperde het by die perde van die Kreplin-stoetplaas aangesluit en waarskynlik by ʼn paar standhoudende watergate in die Aus-berge en Garub bymekaar gekom.

Tog het die wilde perde daarin geslaag om heeltemal aan te pas by die droë Namibiese klimaat en navorsing het getoon die diere plaas nie ekstra druk op die omgewing nie. Die trop het altyd uit sowat 200 perde bestaan, wat volhoubaar is vir die geharde habitat. Die wilde perde is een van net 50 wilde perdbevolkings in die wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kasteel ·

Die perde het ons ook aangetref op die staproete in die Visriviercanyon.
Die naam van die kasteel is Duwisib (nie Dunwisib), 6e paragraaf.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Kasteel

Baie dankie, die kasteel se naam is gewysig soos versoek.

Groetnis
Esté nms. Maroela Media

Jaco ·

Dis ‘n absolute skande hoe die Namibiërs hierdie perde verwaarloos en aan hulle eie genade oorgelaat het. Die toestande waarin die arme diere nou al dekades uitgelewer is, is absoluut onaanvaarbaar. As hulle hier by ons in sulke omstandighede was, sou die DBV lankal opgetree het, en lyk my die Namibiërs is trots daarop. Perde wat trotse diere is, is in die woestyn gelaat waar daar byna niks te eet is nie, die hingste in erge gevegte met mekaar is oor die merries waarvan byna geen met hulle vullens oorleef nie. Daar is geen rus vir hulle in die nag nie, want dan val die hiënas hulle aan. Dis ‘n skande hoe hierdie perde behandel word. En dan is dit ‘n aantreklikheid! En die perde het kastig aangepas! Hulle is in die haglikste kondisie waaraan jy kan dink. Dit sal vir die perde ‘n uitkoms wees as hulle teen Augustus almal uitgewis is – dan is die lyding verby! Ek hoop NHWF doen iets wat die perde se waardigheid herstel.

Pieter ·

Hierdie inspanning wys maar net dat dit nie wilde diere is nie en steeds deur mense beheer word. As dit so erg aanvaar word as deel van geskiedenis, dan moet alles uutheems aanvaar word!

Johan ·

Skiet die hienas. Daar is nog baie van hulle oor. Ek sal kom help daarmee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.