Hospitaalpersoneel in VSA afgedank ná hul entstof weier

Die Houston Methodist-hospitaal in Houston, Texas. (Foto: Francois PICARD / AFP)

Meer as 150 werknemers van ʼn hospitaal in die Amerikaanse deelstaat Texas is óf afgedank óf het bedank nadat hulle nie die hospitaal se opdrag om teen Covid-19 ingeënt te word, nagekom het nie.

Personeel van die Houston Methodist-hospitaal in Houston is aangesê om teen 7 Junie ingeënt te word óf vir twee weke geskors te word.

Gale Smith, woordvoerder van die hospitaal, het vandeesweek aan AFP gesê 153 werknemers het in die skorsingstydperk van twee weke bedank óf is eindelik Dinsdag afgedank.

“Die werknemers wat gedurende die skorsingstydperk aan die vereiste voldoen het, het ʼn dag nadat hulle daaraan voldoen het, teruggekeer,” het Smith gesê.

The New York Times het vroeër vandeesmaand berig byna 200 personeellede is geskors. Betogings teen die inentingsvereiste het sedertdien opgevlam.

Altesame 117 personeellede het verlede maand die hospitaal gedagvaar en daarvan beskuldig dat die hospitaal “werknemers gedwing het om menslike proefkonyne te wees as voorwaarde vir voortgesette diens”.

ʼn Regter het egter die dagvaarding van die hand gewys en beslis dat die veiligheid van die entstowwe nie ter sprake is nie en dat die staat Texas se wetgewing slegs werknemers beskerm indien hulle weier om ʼn misdaad te pleeg.

Regter Lynn Hughes het selfs een van die eisers, die verpleegster Jennifer Bridges, berispe nadat sy haar afdanking met “gedwonge mediese eksperimentering tydens die Joodse volksmoord” vergelyk het.

“Om die inentingsvereiste te vergelyk met mediese eksperimentering in konsentrasiekampe is laakbaar,” het Hughes gesê.

Die 39-jarige Bridges, wat nou haar werk kwyt is, het Dinsdag aan AFP gesê die personeel wat teen inenting is, ontvang al hoe meer steun vir hul saak.

“Ek het besluit om nie ingeënt te word nie, want die risiko is vir my te groot. Ek het persoonlik al slegte reaksies by werknemers en pasiënte gesien: alles van erge hoofpyn tot bloedklonte, verlamming en selfs die dood.”

Volgens Bridges hou die entstof op haar ouderdom nie vir haar baie voordele in nie, “want ek het in elk geval net ʼn 1%-kans om aan die virus te sterf”.

Houston is die tuiste van die wêreld se grootste mediese sentrum, die Texas Medical Center wat hospitale en navorsingsuniversiteite insluit. Dié mediese sentrum het meer as 106 000 gesondheidswerkers in diens en sien ongeveer 10 miljoen pasiënte per jaar.

Sowat 65,4 % van volwassenes in die Verenigde State het teen Dinsdag reeds een of meer dosisse van die Pfizer-, Moderna- of Johnson & Johnson-entstowwe ontvang. Tog toon Amerikaanse opnames dat die meeste van dié wat skepties oor die entstof is juis gesondheidswerkers is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.