Hotelwerker stamp Lamborghini

Foto: @prasanto, Twitter

Foto: @prasanto, Twitter

ʼn Werknemer by ʼn vyfsterhotel in Indië moes Donderdagmiddag ʼn Lamborghini Gallardo van een van die gaste parkeer, toe hy in ʼn muur vasgejaag het.

“Die werknemer het beheer verloor oor die motor,” het Nipun Miglani, ʼn vriend van die eienaar gesê. Die skade beloop glo byna R3.5 miljoen.

ʼn Woordvoerder vir die Le Meridien-hotel het aan AFP gesê die persoon werk al 10 jaar lank by die hotel. “Ons kry gereeld gaste met luukse motors,” het sy gesê. “Dit was net ʼn ongeluk.”

Die eienaar van die motor, wat ʼn konstruksiemaatskappy in Mumbai besit, wou nie kommentaar lewer nie. Miglani en plaaslike media het hom as Abid Fateh Mohammed Khatri uitgeken. Volgens Miglani het Khatri die motor twee jaar gelede gekoop.

Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe die werknemer die motor uit die parkeergebied na die voorportaal bestuur en dan vinnig uitklim, berig Times of India. Nadat hy weer agter die stuurwiel inskuif, ruk die motor onverklaarbaar vorentoe en een van sy kollegas moet uit die pad spring voordat hy die muur tref.

Een van Khatri se neefs het die motor geleen om na die hotel te ry, het Miglani gesê.

ʼn Saak is teen die hotel en werknemer oopgemaak wat tot dusver weier om aanspreeklikheid te aanvaar.

Die agterwielaangedrewe Gallardo kan glo tot 320 km/h haal. Die motor verkoop in Europa vir nagenoeg R2.6 miljoen, maar invoerbelasting op supermotors verdubbel gewoonlik die prys in Indië.

Die werknemer is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling van sy kopbeserings, maar is reeds ontslaan. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.