‘Hou aan soek!’ smeek families ná vistreiler sink

Argieffoto van een van Grupo Nores se treilers (Foto: Grupo Nores/Facebook)

Vlae hang halfstok, oral dra mense swart linte en families is in rou: die Spaanse hawedorp Marin sukkel steeds om die tragedie te verwerk wat 21 vissermanne dood of vermis op see gelaat het.

Die vistreiler, oorspronklik van Marin in Galisië, het Dinsdag vroeg aan die ooskus van Kanada gesink. Verskeie van die 24 bemanningslede was inwoners.

Maroela Media het vroeër berig die Villa de Pitanxo het sowat 250 seemyl oos van Newfoundland gesink. Aan boord was 16 Spanjaarde, vyf persone van Peru en drie van Ghana. Slegs drie persone, twee Spanjaarde en ʼn man van Ghana is gered.

Reddingsbeamptes kon tot dusver slegs nege liggame opspoor. Die soektog is Woensdagaand afgelas na twaalf persone wat vermoedelik verdrink het. Sowat 900 vierkante seemyl is oor ʼn periode van 36 uur deursoek.

Die families het die reddingspan gesmeek om hul soektog voort te sit. “Ons moet bly soek na die liggame. Ons kan nie 12 mense gestrand laat op die see nie!” het John Okutu van Ghana gesê. Sy oom Edemon Okutu is een van die persone wat nooit gevind is nie. “As Kanada nie meer kan soek nie, dan moet Spanje gaan – dis wat die families wil hê,” het hy aan verslaggewers in Marin gesê.

Alberto Nunez Feijoo, streeksleier in Galisië, het ook die owerhede in Spanje en Kanada gemaan om die soektog voort te sit, vir minstens nog 24 uur. “Daar is baie vermiste persone en hulle verdien ʼn laaste poging.”

Luis Planas, minister van landbou en visserye in Spanje, het gesê hy is in kontak met Kanadese owerhede om te kyk of dit moontlik is om die soektog te hervat.

“My kinders is platgeslaan,” sê Carolina, vrou van Jonathan Calderon (39) van Peru, wat al meer as ʼn dekade op die bote leef en werk. Sy het aan AFP gesê “dit is belangrik dat hulle al die liggame vind, want dit is baie belangrik vir die families”.

Sy sê haar man ken die see baie goed want hy het in Uruguay gewerk en daarna in die Falkland-eilande en werk al 12 jaar lank op die Pitanxo. Carolina, van Chiclayo in Peru, het Maandag laas met haar man gepraat. Sy sê hy het niks gesê van slegte weersomstandighede nie.

Haar ma is ook in trane wanneer sy praat oor die impak op die egpaar se 16-jarige seun en 10-jarige dogter. “My kleinseun is baie geskok. Hy dink sy pappa kom huis toe, maar dit lyk of my kleindogter dit aanvaar het, want sy sê, ‘Pappa is dood’.”

Manuel Nores, eienaar van die Villa de Pitanxo, het beraders en terapeute van die Rooi Kruis beskikbaar gemaak vir ondersteuning aan die families, het ʼn AFP-korrespondent gesê.

Oorkant die hawe is groot swart vlae oor geboue gedrapeer. Die vlae by Marin se stadsaal hang halfstok.

Die dorp, met sy 24 000 inwoners, het Woensdagaand ʼn minuut lank stilte gehou vir die slagoffers.

“As mense van die see weet ons wat dit is om met onsekerheid te leef. Dit is deel van ons DNS, net soos soutwater, visvang en om op die see te vaar,” lui ʼn verklaring deur die stadsraad. “Ons kan onsself nie die skok, hartseer of pyn indink wat die families van die Villa de Pitanxo beleef nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.