‘Houdini’-beer ná 10 maande in Italië aangekeer

M49 (Foto: Twitter)

ʼn Beer wat al sedert Julie 2019 vrylik rondloop en geteiken is deur bevele om hom dood te skiet, is uiteindelik aangekeer, het owerhede in die noorde van Italië gesê.

Die beer, bekend as M49, het verdwyn ná hy vir die eerste keer deur natuurbewaarders aangekeer is. Hy het oor vier heinings geklim, insluitend een wat deur hoëspanningelektrisiteit beskerm word.

Hy is Dinsdag vir ʼn tweede keer aangekeer en teruggeneem na die wildtuin van waar hy ontsnap het, het die owerhede van Trento-provinsie Woensdag in ʼn verklaring gesê.

M49 weeg ongeveer 167 kg en is “in ʼn baie goeie toestand”. Hy word nou in ʼn gebied aangehou waar ʼn wyfie ook aangehou word.

Hy is die afgelope paar maande ʼn paar keer wild in die natuur opgemerk, maar ook ʼn paar keer naby woonbuurte. Hy het verskeie plaasdiere aangeval.

Die boerevereniging Coldiretti het “ʼn sug van verligting geslaak” toe hy aangekeer is. Die Italiaanse WWF het gesê dit is “baie slegte en hartseer nuus vir natuurbewaring in ons land”.

Maurizio Fugatti, president van die Trento-provinsie, het ná M49 ontsnap het, aanvanklik opdrag gegee dat die beer geskiet moet word as hy naby mense opgemerk word, maar hy is streng veroordeel hieroor.

Owerhede het in reaksie op die kritiek besluit om dit eerder ʼn prioriteit te maak om M49 lewend aan te keer en dat hy slegs geskiet word “as daar geen ander moontlikheid is nie”, het plaaslike media in daardie stadium berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Burgermeester ·

M49 en Terry die leeu moet bymekaar kom. Ek is seker hulle kan stories uitruil oor hoe hulle dit reg gekry het om mense om die bos te lei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.