‘How to murder your husband’-outeur vas oor man se moord

Nancy Brophy (Foto: Facebook)

Nancy Crampton-Brophy, outeur van “The Wrong Husband” en “How to Murder Your Husband” het Maandag skuld ontken op aanklag van moord op haar eggenoot van 27 jaar, sjef Daniel Brophy.

Crampton-Brophy (68) staan tereg op aanklag van moord en die onwettige gebruik van ʼn vuurwapen. Sy word daarvan verdink dat sy haar 63-jarige man op 2 Junie vanjaar by die Oregon Culinary Institute doodgeskiet het.

Brophy was ʼn geliefde instrukteur by OCI. Hy was alleen in die kombuis toe hy vermoor is. Die polisie het in daardie stadium gesê daar is nie enige “voor die hand liggende verdagtes” nie.

Crampton-Brophy het op 3 Junie vanjaar op Facebook geskryf: “Ek het hartseer nuus. My man en beste vriend, sjef Dan Brophy, is gisteroggend dood. Vir diegene wat naby aan my is en voel dit is ʼn foonoproep waardig, jy is reg. Maar ek sukkel om dit tans te verwerk.”

Sy is die outeur van ʼn reeks boeke oor die “verkeerde” liefdesverhoudings en het in November 2011 ʼn webjoernaal geskryf, “How to Murder Your Husband”. “As ʼn skrywer van romantiese spanningsverhale, dink ek baie aan moord en gevolglik, polisieprosedures. As ʼn moord veronderstel is om my te bevry, dan wil ek beslis nie tyd in ʼn tronksel spandeer nie. En laat ek dit duidelik stel, ek hou nie van oorpakke nie en oranje is nie my kleur nie,” lui die inleiding.

Sy skryf ook in die plasing: “Dis vir my makliker om mense dood te wens as om hulle te vermoor. Ek wil nie bekommerd wees oor bloed en breins op my mure nie. En ek is regtig nie goed daarmee om leuens te onthou nie. Maar die een ding wat ek van moord weet, is dat elkeen van ons dit in ons het, as ons ver genoeg gedruk word.”

Crampton-Brophy is op 5 September 2018 by haar huis in Washington County in hegtenis geneem deur lede van die Portland-polisie. “Die ondersoek het op Saterdag, 2 Junie omstreeks 08:30 begin toe beamptes reageer het op ʼn skietery by die Oregon Culinary Institute,” lui ʼn verklaring deur die polisie. “Beamptes en paramedici het die slagoffer in die gebou gevind. Alle pogings om hom by te bring, was tevergeefs.”

Uit inligting wat bekom is tydens die ondersoek, glo speurders Nancy L Crampton-Brophy is die verdagte in Daniel C Brophy se moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Judge Dredd ·

Volgende boek – ” How to look stylish in orange overalls”

anton ·

En hier dag ek dat dit net mans is wat hulle vrouens vermoor………..maar duidelik gebeur dit anders om ook vir die wat dit nie wil weet of glo nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.