Te midde van die humanitêre krisis waarin Mosambiek, Zimbabwe en Malawi ná sikloon Idai gedompel is, spook internasionale liefdadigheidsorganisasies om duisende diere te red wat óók deur dié verwoestende storm in Maart geraak is.
Die internasionale dierewelsynsorganisasie Humane Society International (HSI) is in Malawi en Mosambiek ontplooi om kos, medisyne en die nodige sorg aan siek en beseerde diere in dié Afrikalande te verskaf, het die organisasie in ʼn verklaring gesê.
Die organisasie het met nasionale en plaaslike regeringsamptenare en gemeenskapsleiers vergader om die behoeftes van diere in dié gebiede te bepaal.
Die HSI spesialiseer in die behoeftes van diere ná natuurrampe soos sikloon Idai. Die organisasie werk tans saam met amptenare en plaaslike groepe om die humanitêre verligting van ander organisasies in die lande aan te vul deur selfs per helikopter te reis om diere in ontoeganklike gebiede te hulp te snel, lui die verklaring.
Meer as 200 diere is tot dusver behandel, insluitend honde, katte, koeie, varke en bokke nadat sikloon Idai verlede maand dié deel van die vasteland getref het.
Noodsaaklike sorg sluit die behandeling in van vitamientekorte asook die verspreiding van antibiotika en inentings aan diere om siektes te voorkom.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Kan daar nie by alle kettingwinkels trollies gesit word waar ons skenkings kan maak nie? Of dalk die bank besonderhede vd HSI sodat ons diereliefhebbers daarin kan geld oorbetaal nie. Jammer ekt nie facebook nie daarom vra ek. :-)
Dis fantastiese nuus! Hoe kan ons maak om te help met fondse?
So bly om ten minste hierdie bietjie goeie nuus te hoor! Ek is seker daar is heelwat diereliefhebbers wat bydraes sal maak, soos Lizelda voorgestel het, want ek kan net dink hoe erg die ellende die diere ook raak .
Wonderlik baie dankie.
Ek het so gewonder oor die diere nadat ek op die nuus gesien het hoe ‘n hondjie verward tussen sy mense rondhardloop wat deur helikopters opgepik word. As hulle nie eers al die mense kon help nie was die arme diertjie vir seker net daar gelos. Dit het my vreeslik gepla. Hoop daai eenetjie is toe ook gered.