Hulpfonds vir Namibië wat steier onder droogte

Argieffoto: Pixabay

Die droogte in Namibië is ʼn nasionale ramp en die landbou- en privaat sektor in dié land het besluit om hande te vat en boere te probeer help om die krisis te oorleef.

Namibië steier onder die droogte wat reeds sedert 2013 voorkom. Ryno van der Merwe, voorsitter van die Namibiese Landbou-unie (NLU), het gesê die Dare to Care-fonds, wat reeds in 2000 gestig is, sal aangewend word om boere te help.

“Vee- en wildboere oor die hele land is baie dankbaar vir die eerste groot reën in sommige dele van die land. Die grootste deel van Namibië het egter nog min of geen reën ontvang nie en selfs in die gebiede waar dit gereën het, wag daar nog ʼn lang pad van herstel vir weiveld,” het Van der Merwe gesê.

“Om ʼn droogte te oorleef, benodig boere hulp om hul diere vetter te maak en van die weiveld te verwyder, terwyl hulle probeer om hul kernteeltrop te red vir wanneer die reën weer kom. Om net 5% van Namibië se nasionale kudde oor ʼn tydperk van twee maande te laat vreet om hulle sodoende van die weiveld te verwyder, sal sowat N$ 170 miljoen kos, wat die enorme krisis beklemtoon.”

Daar word gehoop om teen einde Maart reeds N$ 10 miljoen in te samel. Kanaal 7, ʼn Christelike radiostasie en medianetwerk wat op 33 FM-radiosenders regdeur Namibië uitsaai, het intussen besluit om ook by die inisiatief betrokke te raak.

Kanaal 7 sal eerskomende Maandag en Dinsdag hul deel van die projek van stapel stuur waar die breë gemeenskap skenkings tot die fonds sal kan maak, asook items kan skenk wat opgeveil sal word.

Dié geldinsamelingsaksie vorm deel van Kanaal 7 se bydrae tot die droogtehulpfonds en al die geld wat hierdeur geïn word, sal in die Dare to Care-fonds se rekening inbetaal word. Meer inligting sal op Kanaal 7 se Facebookblad en gewone uitsendings bekend gemaak word. Besoek Kanaal 7 se ‘Dare to Care’-blad hier. 

Van der Merwe het gesê die Dare to Care-fonds is in 2000 gestig om slagoffers van veldbrande by te staan, hoewel die fonds oor die jare ook slagoffers van vloedgeteisterde gebiede, plaasaanvalslagoffers en ander noodlydendes bygestaan het.

Volgens Van der Merwe is die plan ook om nie voer te skenk aan boere nie, maar om sekere voersoorte goedkoper te maak deur dit te subsidieer.

Alpheus !Naruseb, Namibië se minister van landbou en grondsake, het die inisiatief geloof. “Ek glo enige poging met die doel om iets te doen rakende die droogte is ʼn welkome ingreep en dit het my  onvoorwaardelike ondersteuning. Dit is ʼn baie edele taak wat julle op julself geneem het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

humor ·

En wat van die regering self. Ons wag veral vir jul inisiatief!!!!!!!!!!!!!!!

Judge Dredd ·

Nee jong, lyk my hulle is maar soos in SA – vat alles, maar gee niks terug nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.