Humanitêre stroke in Oekraïne geteiken: ‘Dis terreur’

‘n Kind wag om Irpin, noord van Kiëf, te verlaat. (Foto: Aris Messinis / AFP)

Wolodimir Zelenski, die Oekraïense president, sê Russiese magte het weer ʼn humanitêre strook, wat veilige deurgang vir burgerlikes moet help verseker, in die beleërde stad Marioepol geteiken.

Dít nadat Moskou onderneem het om die stroke daagliks te open sodat mense wat wil, kan vlug.

Zelenski sê hy het Donderdag ʼn konvooi vragmotors met kos, water en medisyne na Marioepol gestuur. Rusland het egter na bewering ʼn tenkaanval op die roete geloods, wat deur Oekraïne as “terreur” bestempel is.

Volgens Marioepol se burgemeester, Vadym Boichenko, teiken Rusland woongebiede “elke 30 minute”.

Ongeveer 100 000 mense het die afgelope twee dae danksy die humanitêre stroke uit Oekraïne gevlug. Die stroke volg egter spesifieke roetes – en die meeste daarvan lei na Rusland of sy bondgenoot Belarus. Dit is ʼn stap waaroor Rusland skerp gekritiseer word.

Die Oekraïense weermag het intussen gesê gevegte om beheer oor die stede Tsjernihiv en Kharkiv in die noordooste en Marioepol en Severodonetsk in die suidooste, duur voort.

Rusland het nou ook sy visier op die stad Dnipro in die ooste van Oekraïne.

Die plaaslike nooddiens sê een mens is in dié stad dood nadat drie lugaanvalle uitgevoer is. ’n Kleuterskool, ’n woonstelblok en ’n skoenfabriek is tydens die aanvalle getref.

Dié aanval blyk die eerste direkte aanval op Dnipro te wees.

Vergadering oor ‘biologiese wapens’ gelas

Die VN se veiligheidsraad sal Vrydag – op versoek van Moskou – ʼn noodvergadering hou oor die beweerde vervaardiging van biologiese wapens in Oekraïne.

Rusland het Donderdag die Verenigde State daarvan beskuldig dat hy navorsing oor die ontwikkeling van biologiese wapens in Oekraïne finansier. Die Amerikaners en Oekraïners ontken die bewerings, met die VSA wat sê dit is tekenend dat Moskou binnekort self die wapens kan gebruik.

“Niemand ontwikkel enige chemiese of enige ander massavernietigingswapens in Oekraïne nie,” het Zelenski op sy beurt gesê.

Janet Yellen, Amerikaanse minister van finansies, het intussen gesê die VSA en sy Europese bondgenote beoog om Rusland bykomende strawwe op te lê weens “die gruweldade wat hy teen burgerlikes pleeg”.

Groot woede heers steeds oor die onlangse aanval op ʼn kinderhospitaal in Marioepol. Drie mense, onder wie ʼn jong meisie, het Woensdag in dié aanval omgekom.

Die VN sê meer as 2,3 miljoen mense het nou reeds uit Oekraïne gevlug en meer as die helfte van diegene het skuiling in Pole gaan soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Maak toe die lugwee bokant ukraine. Daar is nie meer n keuse nie. Ons moet maar vat wat kom. Putin gaan nie ophou voor Ukraine totaal verwoes is nie.En dan gaan hy pole begin aanval

Tiaan

Waarom sal Rusland humanitêre stroke teiken wat hulle self tot stand gebring het, has hulle die stede wou opblaas en ‘civilians’ teiken sou hulle al lankal ‘carpet bombing’ uitgevoer het

Marius

Waar het jy al ooit gehoor van ‘n geloofwaardife kommunis ? Dis in hul dna om te lieg en bedrieg.

henndrik

Ek het verlede week na die eerste aanval op die kernkrag sentrale bietjie gaan Google waar Ukraine se kernkrag sentrales is. Dit is byna in ‘n reguit lyn deur die middel van die land. Ek het hierdie nare gevoel Rusland is net besig om homself in die regte posisie te plaas om al hierdie kragstasies aan te val want dit sal hom sy niemandsland skep op sy grens gee.

Eric

Al hierdie berigte is tipies Westerse propaganda wat soos almal behoort te weet 100% vals. Waarom word die Russiesse kant nooit gestel nie. Die liberale Weste met hulle sekulere beleid en zero moraliteit is bekend vir Vals Nuus vir jare al.