Ida laat spoor van ontruimde hospitale

‘n Gesigmasker hang aan ‘n omgewaaide kragdraad in Louisiana ná orkaan Ida die deelstaat getref het. (Foto: Mark Felix / AFP)

Stampvol hospitale in die suide van die Amerikaanse deelstaat Louisiana is genoop om hul pasiënte te verwyder nadat orkaan Ida groot skade aan infrastruktuur aangerig het.

Ida – intussen afgegradeer na ’n tropiese storm – het die kus van Louisiana Sondag as ʼn verwoestende kategorie 4-orkaan bereik op ʼn tydstip wat die meeste hospitale in die staat byna vol was met Covid-19-pasiënte.

Verskeie hospitale moes sedertdien pasiënte na ander mediese sentrums oorplaas weens kragonderbrekings terwyl talle fasiliteite staatmaak op kragopwekkers om pasiënte aan die lewe te hou.

’n Groot gedeelte van die Lady of the Sea- algemene hospitaal in Lafourche Parish – naby aan die plek waar Ida land bereik het – se dak is Sondag afgeruk. Lede van die Amerikaanse kuswag kon intussen daarin slaag om ongeveer sewe pasiënte uit die hospitaal te verwyder.

Ochsner Health, die grootste hospitaalnetwerk in Louisiana, bestuur ongeveer 15 hospitale wat deur die Ida geraak is. Altesame 165 pasiënte is uit drie van dié hospitale verwyder. Die drie hospitale is in die geteisterde Bayou-streek geleë.

‘n Straat in New Orleans ná orkaan Ida dié stad getref het. (Photo by Brandon Bell / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Dr. Joseph Kanter, gesondheidshoof in Louisiana, het intussen op Twitter gesê dit lyk asof groot hospitale geringe skade as gevolg van die orkaan opgedoen het, terwyl ʼn paar kleiner hospitale “aansienlike skade opgedoen het”.

Kanter het mense aangemoedig om sover moontlik nie na hospitale te gaan nie aangesien mediese fasiliteite in die komende dae “besig” sal wees.

Maroela Media het vroeër berig orkaan Ida het die lewe van minstens een mens geëis.

Die goewerneur van Louisiana het intussen gewaarsku dat die dodetal “aansienlik sal styg”.

Die skade aan ‘n vulstasie in Kenner, Louisiana, ná orkaan Ida. (Foto: Patrick T. FALLON / AFP)

“Die grootste bekommernis is dat ons steeds soek-en-reddingspogings uitvoer en daar is individue regoor die suidooste van Louisiana… wat op ʼn slegte plek is,” het John Bel Edwards Maandag aan die Today Show gesê.

Edwards het ook op Twitter gesê dat Louisiana meer as 1 600 nooddienswerkers ontplooi het om hand by te sit.

“Ons gaan nog geruime tyd op hierdie orkaan reageer en dan gaan ons vir baie maande nog daarvan herstel.”

Meer as ’n miljoen huishoudings in Louisiana sit in dié stadium nog sonder krag.

Bronne: AFP, ABC News, ABC10, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.