Ierse sokkerspan jok oor speler se afsterwe

Ballybrack-sokkerklub (Foto: Ballybrack FC/Facebook)

ʼn Kennisgewing oor ʼn sokkerspeler se afsterwe is in ʼn plaaslike koerant gepubliseer en een van die klub se wedstryde is uitgestel. Spanne in die Leinster-seniorliga het ʼn minuut lank stilte gehou ter nagedagtenis aan die speler wat in ʼn motorongeluk omgekom het.

Dit was alles een groot fout.

Die amateurspan Ballybrack FC het om verskoning gevra vir ʼn “growwe oordeelsfout” ná hulle valslik berig het een van hul spelers, Fernando Nuno La Fuente, is verlede Donderdag oorlede. La Fuente is nie dood nie, het die span intussen bevestig.

“Hierdie onaanvaarbare fout is heeltemal buite karakter en is gedoen deur ʼn persoon wat erge persoonlike probleme ervaar het – sonder dat enige van die ander klublede daarvan geweet het,” het Ballybrack in ʼn verklaring gesê. Die klub het bevestig die betrokke persoon is ná ʼn noodvergadering afgedank.

Die liga het “innig om verskoning gevra vir enige ongerief wat veroorsaak is as gevolg van ʼn kennisgewing aan die klubs oor die afsterwe van die gewaardeerde speler”.

Ballybrack, ʼn span gebaseer in Dublin, het Saterdag sy wedstryd teen Arklow Town uitgestel en ander spanne het ʼn minuut lank stilte gehou ter nagedagtenis aan La Fuente.

David Moran, voorsitter van die liga, het gesê die storie het aan die lig gekom ná navrae gerig is om ondersteuning te bied aan La Fuente se familie. “Ons het gehoor hy het Saterdag na Spanje teruggekeer. Daar was dadelik rooi ligte vir ons,” het Moran aan die Ierse uitsaaier RTE gesê. “Ons het hospitale gekontak, ons het oral gesoek. Niemand kon enigiets uitvind oor hierdie jong man nie.”

Die klub het Fernando gekontak om sy welstand te bevestig, het Ballybrack gesê. “Ons is dankbaar dat hy ons verskoning aanvaar het.”

La Fuente het aan RTE gesê kollegas het vir hom nuusberigte begin aanstuur en dis hoe hy uitgevind het hy is “dood”. Die Spanjaard het na Galway verhuis en speel nie meer vir Ballybrack nie. Hy verduidelik die klub het hom gekontak om hom te waarsku dat hy dalk berigte mag hoor dat hy in ʼn ongeluk betrokke was. “Ek het geweet daar is een of ander storie oor my, maar ek het gedink dit sou iets wees soos dat ek my been of iets gebreek het. Ek het nie omgegee nie, want ek was nie meer by die klub betrokke nie. As ek nie in die moeilikheid sou kom nie, hoekom sou ek omgee? Almal vertel soms witleuntjies.”

Hy het gesê die idee dat ʼn man in sy 20’s, “met sy hele lewe voor hom” in ʼn ongeluk omgekom het, is hartseer, maar het bygevoeg: “Dit was ook bietjie snaaks, want ek kon my eie afsterwe dophou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann cb ·

Sjoe, iemand het ‘n lelike wrok teen die arme man gehad! Dit moet erg wees om van jou eie “afsterwe” in die media te verneem…

Peet Schabort ·

Dit was so om en by 1970 dat Jan Gr……ng wat saam met my gewerk het die boodskap gekry het dat sy pa oorlede is. Haastig en met groot gesukkel (hy het nie ‘n kar gehad) het Jan die pad gevat vir ‘n paar honderd km. na sy ouers se tuiste. Daar aangekom hoor hy iemand werskaf in die werkskamer langs die huis. Hy stap om die hoek, sy pa kyk op en vra: “Middag Jan, nou waarom is jy hier in die middel vd week”? Jan antw. met “Ek het ‘n boodskap gekry pa is dood . . . ”
Die skuldige, sover ek weet, is nooit opgespoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.