Immigrante stroom na Griekeland ondanks EU-ooreenkoms

'n Vrou van Afghanistan is op soek na haar kinders toe sy op Lesbos, Griekeland aankom (22 September 2015) Foto: REUTERS/Yannis Behrakis

‘n Vrou van Afghanistan is op soek na haar kinders toe sy op Lesbos, Griekeland aankom (22 September 2015) Foto: REUTERS/Yannis Behrakis

Owerhede in Griekeland het Maandag gesê immigrante en vlugtelinge betree steeds die land deur sy Egeïese eilande ondanks ʼn ooreenkoms tussen die Europese Unie en Turkye om die instroming te beheer.

Die ooreenkoms het Saterdag om middernag in werking getree, maar 1 662 persone het die afgelope 24 uur van Turkye na die Egeïese eilande gestroom, het die Griekse krisisbeheerowerheid gesê.

Altesaam 875 persone het die vorige dag opgedaag, en die vorige drie dae was dit daagliks tussen 239 en 1 487 persone.

Die aantal migrante op Griekse bodem kom nou op 50 411 te staan, het owerhede in Athene gesê.

Volgens die EU-Turkye-ooreenkoms, sal migrante na verwagting in April weer na Turkye terugkeer, tensy hulle kan bewys dat hulle in daardie land vervolg gaan word.

Volgens die Europese Kommissie benodig Griekeland nog ongeveer 4 000 werknemers om die invloei van migrante te hanteer en hul status te bepaal.

Vir elke Siriese migrant wat na Turkye terugkeer, is die EU veronderstel om een op sy eie grondgebied te vestig, tot ʼn maksimum van 72 000. Daar is tans meer as 7 000 migrante gestrand op die Egeïese eilande. Ongeveer 13 000 is in Athene en sy hawe en die res is in kampe in sentraal- en noordelike Griekeland.

Ongeveer 13 500 persone bly vol verwagting in Idomeni, ʼn kamp op die grens wat Masedonië vroeër vir migrante gesluit het, dat hulle steeds toegelaat sal word in die welgestelde EU-lande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.