Indië: Honderde siek, een dood van onbekende siekte

Indië se landsvlag. Argieffoto: Pixabay

Een persoon is dood en meer as 450 is gehospitaliseer weens ’n onbekende siekte wat in die Indiese deelstaat Andhra Pradesh uitgebreek het.

USA Today berig dat tientalle mense van verskillende ouderdomme die afgelope naweek in Eluru, ’n stad in dié suidelike staat, ineengestort en toevalle gekry het. Hulle het ook simptome van naarheid, bewusteloosheid, duiseligheid en erge hoofpyn ervaar. Volgens berigte het by sommiges selfs skuim by hul monde uitgekom.

Van diegene wat ineengestort het, het gekla oor hul oë wat brand. Volgens die berig is ’n 45-jarige man, wat in die hospitaal opgeneem is vir simptome van naarheid en epilepsie, aan ’n hartaanval dood.

India Today het berig 200 mense is sedertdien ontslaan. Die hoofminister van Andhra Pradesh, YS Jaganmohan Reddy, het Maandag pasiënte in die hospitaal besoek.

Volgens ’n berig in The Guardian het spesialiste van die All India Institute of Medical Sciences na die staat gereis om die moontlike oorsaak van die siekte te probeer bepaal. Moontlike voedsel- of waterbesoedeling of lugvergiftiging is onder meer ondersoek.

Sover het watermonsters uit die betrokke gebiede geen tekens van besoedeling getoon nie. So ook het mense wat nie water van hierdie spesifieke munisipale waterbron ontvang nie, ook siek geword.

Volgens Dolla Joshi Roy, ‘n distrikswaarnemingsbeampte, is al die pasiënte wat vir dié vreemde siekte gehospitaliseer is, negatief vir Covid-19 getoets. “So ons weet die oorsaak is nie Covid-19 nie,” het hy gesê.

Die pasiënte het ook negatief getoets vir ander muskiet-oordraagbare siektes soos dengue- en Chikungunya-koors asook herpes.

Die uitbreking het die las op die gesondheidsorgstelsel in Andhra Pradesh verhoog. Dié staat het die derde meeste gevalle van Covid-19-infeksies in die land.

Tot op hede is 800 000 gevalle in hierdie staat aangemeld. Indië het al meer as 9,7 miljoen Covid-19-gevalle aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Androclus ·

Here U is en was nog in beheer van alles bewaar ons SA teen nog ‘n pandemie.AMEN

Maggies ·

Peste, pandemies ens. is in die Woord voorspel. Ek hoop meer mense gaan begin glo aan daardie Heilige Woord wat so maklik afgelag word. Ek is glad nie ‘n doemprofeet nie, ek sien net die waarheid raak.

Niklaas ·

Ek hoop werklik dis nie nog ‘n ander variasie van Covid 19 nie . Ons is tans op die drumpel van inent stof wat mense kan gesond maak van die groot huidige pandemie.

Leeuwyfie ·

Dit klink baie meer soos vergiftiging. Simptome is baie dieselfde as sianied vergiftiging. Miskien iets soos novichok?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.