Indië-siekte: Swaarmetale in pasiënte se bloed gevind

(Argieffoto: Ibrahim Boran)

Spore van swaarmetale soos lood en nikkel is in die bloedmonsters gevind van pasiënte wat gehospitaliseer is weens ’n onbekende siekte wat in die Indiese deelstaat Andhra Pradesh uitgebreek het.

Mediese kundiges het hulle na Eluru, ’n stad in dié suidelike staat, gehaas om die siekte, wat Saterdag eers verskyn het, te ondersoek.

Tientalle mense van verskillende ouderdomme het die afgelope naweek in dié stad ineengestort en toevalle gekry. Hulle het ook simptome van naarheid, bewusteloosheid, duiseligheid en erge hoofpyn ervaar. Volgens berigte het by sommiges selfs skuim by hul monde uitgekom.

Ongeveer 555 mense is al sedert Saterdag gehospitaliseer, waarvan 200 reeds ontslaan is. Een hospitaal het 100 beddens vir pasiënte uitgehou, maar die meeste van hulle is reeds ontslaan.

’n 45-jarige man, wat in die hospitaal opgeneem is vir simptome van toevalle, naarheid en chroniese pyn, is aan ’n hartaanval dood.

AV Moha, hoof van die Eluru-regeringshospitaal, sê monsters wat van tien van die pasiënte geneem is, het hoë vlakke van lood en nikkel in hul bloed getoon. Hy sê die monster was egter te klein om met sekerheid te kan bevestig dat lood en nikkel die siekte veroorsaak het.

Staatsowerhede het ’n ondersoek gelas na die bron van die metale en dat die verspreiding daarvan onder die loep geneem moet word.

Daar is geen groot chemiese fabrieke in die streek nie, en wyer toetse op die watervoorsiening en selfs die melk wat in die stad gedrink word, is uitgevoer. Kundiges van nasionale mediese instellings het ook monsters van eetbare olie, rys en urine versamel vir ontleding.

Distriksbeamptes het reeds die moontlike rol van chemiese bymiddels in plaagdoders vasgestel.

AS Ram, ’n senior dokter in ’n staatshospitaal, sê sommige mense sê dat die siekte massahisterie is, maar volgens hom is dit nie die geval nie.

“Die meeste van die pasiënte het baie skielik ineengestort en word dan in die hospitaal opgeneem vir ligte kopbeserings of ʼn blou oog,” sê Ram.

“Meeste van hulle is binne ’n uur of twee weer hul ou self.”

’n Polisiekonstabel, Kiran Kumar, wat Maandag inmekaargesak het terwyl hy aan diens was, het gesê hy was bang nadat hy vir meer as twee uur semi-bewusteloos was.

“Volgens my kollega het ek iets geskree voordat ek inmekaargesak het. Ek het my regterskouer beseer toe ek op die harde teerpad geval het,” vertel Kumar.

Daar is vroeër berig al die pasiënte wat vir dié vreemde siekte gehospitaliseer is, het negatief vir Covid-19 getoets. Die pasiënte het ook negatief getoets vir ander muskiet-oordraagbare siektes soos dengue- en Chikungunya-koors asook herpes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Die Wolf

Dalk Chinese virus in areosol formaat.