Indië takel geraasbesoedeling op unieke wyse

Mumbai in Indië is die stad met die vierde hoogste padverkeer in die wêreld volgens TomTom se 2019-verkeersindeks. Foto: Malhar Garud/Unsplash.com

Mumbai in Indië, die stad met die vierde hoogste padverkeer volgens TomTom se 2019-verkeersindeks, het ʼn nuwe soort tegnologie met groot welslae getoets om klaar te speel met geraasbesoedeling weens druk verkeer.

Indië het ʼn bevolking van meer as ʼn miljard mense. Die land sit met van die wêreld se mees digbevolkte metropole ter wêreld, en boonop het dit ʼn kultuur waar mense graag op hulle toeters “lê” om die verkeer in die stede te navigeer.

Dit is natuurlik algemene praktyk om jou toeter te gebruik in ʼn noodgeval, ʼn motoris te waarsku of selfs om jou frustrasie uit te spreek, maar in hierdie deel van die wêreld is die gebruik van toeters buitensporiger en dra ook sommer ʼn verskeidenheid van ontsyferbare emosies oor.

Volgens TechSpot veroorsaak dit nie net ʼn chaotiese ry-ervaring nie, maar lei ook tot skadelik hoë geraasvlakke in die stede.

Verkeerspolisie in Indië het egter met ʼn slim plan vorendag gekom om vlakke van geraasbesoedeling in die land se stede te verminder.

Indië se verkeersligte het ʼn tydhouer wat aftel om padgebruikers te wys wanneer dit hulle beurt is om te ry en dit is hier waar motoriste gewoonlik die graagste hulle toeters gebruik in ʼn soort bisarre poging om die verkeerslig vinniger te laat oorslaan.

Die polisie het in November en Desember desibelmeters op verkeersligpale in die stad geïnstalleer, wat die rooi lig se tydhouer herstel as die geraasvlakke bo 85 desibel styg.

Die beginsel is eenvoudig: Hoe meer jy op die toeter lê, hoe langer neem dit vir die verkeerslig om oor te slaan.

Pranay Ashok, ʼn polisiewoordvoerder, het aan CNN gesê die eksperiment is 15 minute per dag by die stad se belangrike verkeersoorgange uitgevoer. Hy het bygevoeg dat die departement die stelsel binnekort by tien nuwe oorgange sal instel in die hoop dat dit later na die hele stad uitgebrei sal word.

Die Mumbai-polisie het ook ʼn video op die sosialemediaplatform Twitter geplaas wat die slegte gevolge van hierdie soort geraasbesoedeling benadruk. Die video is reeds meer as drie miljoen keer gekyk.

Bangalore is onlangs aangewys as die stad met die grootste verkeersopeenhopings ter wêreld, met bestuurders wat gemiddeld tien dae in die verkeer deurgebring het, terwyl Delhi en Pune ook in die toptien was.

TomTom se verkeersindeks, wat stede volgens hulle verkeersopeenhopings lys, het gesê pendelaars in Mumbai het in 2019 meer as agt dae in die stad se spitsverkeer verloor. Die verslag meen padgebruikers kon die vermorste tyd gebruik het om 10 000 koekies te bak of na verskeie episodes van hulle gunsteling-televisiereeks te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Oulik! Ons kort dit hier ook, maar dan moet daar spykers op die sypaadjie ook opspring om die texis in die tou te hou.

PieterP ·

As jou kant groen is lê op die toeter om die ander wat wag se bekkies dik ye maak

Leon ·

Dit sal nie in Suid Afrika werk nie. Die taxis stop in elke geval nie by rooi verkeersligte nie. Jy het ‘n geweer nodig wat die geraas kan volg en as hy sy toeter blaas, dan skiet hy hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.