Indië-vliegtuigongeluk: Dodetal van repatriasievlug styg

(Foto: AP Photo/Shijith Sreedhar)

Die vliegtuig wat in Kerala, Indië, van ʼn aanloopbaan gegly en in twee geskeur het, het Indiese burgers vervoer wat in ander lande gestrand was weens die Covid-19-pandemie.

Die dodetal van Vrydagaand se ongeluk het intussen tot 18 gestyg met meer as 120 mense wat beseer is.

Albei vlieëniers van die Air India Express-vlug het in die ongeluk omgekom en 15 mense het kritieke beserings opgedoen.

Die twee jaar oue Boeing 737 het van Dubai af in swaar reën by die Kozhikode- internasionale lughawe geland toe die voorval plaasgevind het.

Renjith Panangad het vir die eerste keer in drie jaar weer huiswaarts gekeer nadat hy sy werk by ʼn konstruksiemaatskappy in Dubai verloor het.

(Foto: AP Photo/Shijith Sreedhar)

Hy het vanuit sy hospitaalbed aan AP gesê dat die vliegtuig van kant na kant geswaai het en toe was alles ewe skielik donker.

“Daar was ʼn harde geluid tydens impak en toe begin mense skree. Baie van die passasiers het gebloei.”

Daar was 174 volwassenes, tien kinders en ses bemanningslede aan boord van die vliegtuig.

Soek- en reddingswerkers het Saterdag die vlugdata-opnemer gevind en ondersoek sal nou ingestel word na die presiese omstandighede rakende die voorval.

Die vliegtuig het van die aanloopbaan by ʼn heuwel afgegly en in twee gebreek. Die aanloopbaan by Kozhikode-lughawe is op ’n plat heuwel met diep klowe aan weerskante.

Die ergste lugramp in Indië was op 12 November 1996, toe ’n vlug van Saudi Arabian Airlines in die lug teen ʼn vlug van Kazakhstan Airlines gebots het en al 349 mense aan boord van die twee vliegtuie dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Ek was self in ‘n vliegtuig wat van kant tot kant geswaai het met die opstyg maar ons het dit gemaak en ek wil dit nooit weer beleef nie.
Interessant is dat die pasassiers om my nie gedink het dis uitermate vreemd nie en na ‘n paar oe en aas het almal weer rustig hul ding gedoen terwyl ek emmers sweet in afwagting op die landing.
Nee dankie vir vlieg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.