Indiese owerhede bied bystand vir slagoffers van aardbewing

'n Dokter versorg 'n man in 'n hospitaal in Imphal, Indië. Foto: AP Photo/Bullu Raj

‘n Dokter versorg ‘n man in ‘n hospitaal in Imphal, Indië. Foto: AP Photo/Bullu Raj

Owerhede in Imphal in die noordooste van Indië het Dinsdagoggend finansiële bystand vir die herbouing van huise aan meer as 2 000 slagoffers van die aardbewing in Manipur beloof.

Die episentrum van die aardbewing was 22 km noordwes van Imphal, die hoofstad van die Manipur-provinsie.

Maroela Media het Maandag berig dat ʼn aardbewing van 6,7 die gebied getref het. Owerhede het intussen bevestig dat die dodetal tot agt gestyg het en dat meer as 100 mense beseer is.

LM Khaute, die staatspolisiehoof in Manipur, het gesê inwoners is tydelik na die huise van vriende en familie verskuif. Owerhede is tans besig met ʼn ondersoek na die impak van die skade in Imphal, die Tamenglong-distrik, en ook in Bangladesj en Mainmar waar die skudding gevoel is.

Dit is nog onduidelik of die dodetal sal styg. “Reddingswerkers het niemand in die puin opgespoor nie,” het Khaute gesê. “Reddingsoperasies duur egter voort om te verseker niemand is vasgekeer nie.”

Inwoners sê die skudding het byna ʼn minuut lank geduur. Dit het groot skade veroorsaak, onder meer diep krake in die mure van geboue, skade aan ʼn brug aan die buitewyke van die hoofstad en die ineenstorting van ʼn pasvoltooide gebou van ses verdiepings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.