Indiese Premierliga opgeskort

Argieffoto van die Indiese Premierliga. Foto: Twitter.

Die Indiese Premierliga (IPL) is Dinsdag om veiligheidsredes opgeskort te midde van die vinnige toename in Covid-19-gevalle in Indië.

“Die IPL-raad en die beheerraad vir krieket in Indië het tydens ’n noodvergadering eenparig besluit om die IPL 2021-seisoen met onmiddellike inwerkingtreding op te skort,” het die organiseerders van die IPL in ’n verklaring gesê.

Die aankondiging kom net ’n dag nadat die wedstryd tussen die Kolkata Knight Riders en die Royal Challengers Bangalore afgestel is etlike ure voor dit sou begin nadat van die spelers positief getoets het.

Luidens die verklaring wil die beheerraad nie die veiligheid van spelers, personeel en diegene betrokke by die organisasie van die IPL in gedrang bring nie.

“Hierdie besluit is geneem met die oog op die veiligheid, gesondheid en die welstand van alle belanghebbendes.”

Indië gaan tans gebuk onder ’n vlaag koronavirusinfeksies en het Dinsdag die 20 miljoen-kerf oorgesteek wat bevestigde Covid-19-gevalle betref.

Die IPL is sedert begin April aan die gang terwyl Indië se gesondheidsorgstelsel oorweldig word deur ’n tweede golf van Covid-19-gevalle. Die spelers van die agt spanne was sedertdien in streng bioborrels terwyl wedstryde in ses stede, waaronder Nieu-Delhi en Mumbai wat tans gebuk gaan onder die pandemie, plaasgevind het.

“Dit is moeilike tye, veral in Indië, en hoewel ons probeer om positiwiteit en ’n gejuig in te bring, is dit egter noodsaaklik dat die toernooi nou opgeskort word en dat almal in hierdie moeilike tye na hul gesinne en geliefdes terugkeer,” sê die organiseerders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris dupreez ·

Ek hoop die suid afrikaanse spelers word in kwarantein geplaas met hulle terugkeer, SA kan nie bekostig om besmet te word met die Indiese variant van die virus nie.

Zietsie ·

Hoog tyd dat dit opgeskort word. Vind dit jammer dat krieketers vir miljoene rande kan krieket speel en mense om jou doodgaan en ook suurstof tekort is

Harry ·

So ou johan moet hierdie spelers nou maar dan sit en niks doen nie, dis hulle in komste, dis maar hoe dit is, hulle kon dalk weer in die Arabiese Emerate soos verlede jaar gespeel het. Al hierdie mense wat so teen die IPL is dink ek is net jaloerse suur knolle

koos10 ·

johan, dis vir my veel erger dat spelers nie vir hulle lande en klubs kan speel nie, maar goed presteer by die IPL, en terug keer met “beserings”.

Jack Russ1 ·

@Johan, veral as jy kyk na india. Hulle inkomste per capita is van die minste in die wereld, maar hulle kan borge kry om miljoene te betaal vir een speler om te kom krieket speel en dit terwyl hulle mense sukkel met oorlewing

Ja, dit is nie die besighede se verantwoordelikheid om na die bevolking om te sien nie, maar dit is erg dat so baie betaal word aan so paar mense en miljoene ly honger in jou land

Rayman ·

Hulle mense wat sulke negatiewe kommentaar lewer is ook al “ge-brain wash” deur die media en wêreld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.