Indonesië-aardbewing: Dodetal styg, sowat 5 000 steeds vermis

Werkers probeer om kragdrae te herstel. Foto: Xinhua/ANA.

Die dodetal ná die verwoestende aardbewing op die Sulawesi-eiland van Indonesië styg steeds. Dié land se rampbestuur het ook Sondag aangekondig dat sowat 5 000 mense steeds vermis word.

Die dodetal staan nou op 1 763.

Sutupo Nugroho, woordvoerder vir die land se rampbestuuragentskap, het gesê sowat 5 000 mense van Petobo en Balaroa, twee nedersettings wat in ʼn sinkgat verdwyn het ná die skudding op 28 September, word vermis.

Nugroho het gesê as hulle nie teen 11 Oktober gevind word nie, sal hul as amptelik vermis verklaar word.

Die koördinerende minister vir veiligheid het gesê die regering oorweeg om die twee nedersettings in massagrafte te omskep.

‘n Brug wat ineengestort het. Foto: Xinhua/ANA.

Reddingspogings is Sondag hervat maar die kanse om enigiemand lewend onder die puin aan te tref raak volgens reddingswerkers al hoe skraler.

Die Sulawesi-aardbewings volg nadat 550 mense dood is en meer as 400 000 dakloos gelaat is ná aardbewings op Lombok-eiland in Augustus.

Ongeveer 230 000 mense is in 12 lande dood nadat ʼn aardbewing van 9,1 die Weskus van Indonesië se Sumatra-eiland getref het en ʼn verwoestende tsoenami op 26 Desember 2004 gevolg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.