Indonesië-aardbewing: Dodetal styg steeds

Aangesien talle hospitale ook deur die natuurramp vernietig is, word talle beseerdes in die buitelug behandel. Foto: Xinhua.

Nagenoeg 1 350 mense is dood ná die vernietigende aardbewings en daaropvolgende tsoenami wat die Indonesiese eiland Sulawesi Vrydag getref het.

BBC berig die dodetal is volgens die nasionale rampagentskap al 1 347. Die dodetal sal na verwagting verder styg namate nog liggame uit die puin gebring word.

Volgens die BBC is daar ʼn geskarrel vir basiese behoeftes soos kos, water en krag.

Volgens CNN ervaar inwoners van die stad Palu al vir die vyfde dag ʼn tekort aan genoeg kosvoorraad en skoon drinkwater. Paaie na dié stad van sowat 350 000 mense word gedeeltelik versper en maak dit moeilik vir hulp om die stad te bereik.

Vanda Lengkong, streekhoof van Disaster Risk Management by Plan International, het aan CNN gesê sy het gesien hoe mense op die strate bedel vir kos en water in die Dongalla-omgewing rondom Palu.

Foto: Xinhua.

Aangesien talle hospitale ook deur die natuurramp vernietig is, word talle beseerdes in die buitelug behandel en minstens een militêre veldhospitaal is op die been gebring. Vliegtuie word tans gebruik om beseerdes wat op dringende mediese behandeling wag uit die rampgebiede te vervoer.

Maroela Media het vroeër berig die tsoenami het branders aan die kus van die eiland van tot 6 m hoog tot gevolg gehad.

Talle mense is nog vasgevang onder die puin ná Vrydag se aardskuddings, waarvan die ergste 7,5 gemeet het, maar versperde paaie en ineengestorte brûe maak dit moeilik vir reddingspanne om die slagoffers te bereik.

Meer as die helfte van die 560 gevangenes in Palu se tronk het Vrydag ontsnap nadat die gevangenis se mure weens die aardbewing in duie gestort het, het die Amerikaanse dagblad StarTribune berig. ʼn Bewaarder het gesê dit was vir sy kollegas baie moeilik om te keer dat die gevangenes weghardloop omdat hulle self paniekbevange was en hul eie lewe moes red.

Nóg ʼn skudding wat 6 gemeet het, het die Suma-eiland in die ooste van die land Dinsdagoggend getref. Daar is tot dusver nie enige beserings weens dié skudding aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.