Die vliegtuig van Trigana Air Service was op pad van Jayapura in die Papua-provinsie na Oksibil, het Julius Barata, woordvoerder van die vervoerdepartement, gesê. Daar is 49 passasiers, insluitend vyf kinders, en vyf bemanningslede aan boord van die ATR42-300-vliegtuig. Die vlug was veronderstel om sowat 42 minute te duur.
Die weer was guur naby Oksibil toe kontak met die vliegtuig verloor is, enkele minute voordat die vliegtuig moes land. Dit het swaar gereën en daar was sterk winde en mis.
ʼn Vliegtuig is gestuur om na die vermiste vliegtuig te soek maar die soektog is later afgelas aangesien dit donker geword het en weens die gure weer. Die soektog sal Maandagoggend voortgaan. Groot gedeeltes van die Papua-provinsie is bedek met ondeurdringbare oerwoude en berge. Sommige vliegtuie wat in die verlede daar neergestort het, is nooit gevind nie.