ʼn Vuurbal wat in Australië deur die lugruim getrek en opslae op sosiale media gemaak het, is glo rommel van ʼn Russiese vuurpyl.
Inwoners van Melbourne het Donderdagaand na radiostasies ingeskakel om die “ongelooflike” vuurbal te beskryf. “Dit was so vinnig en toe het dit spoed verloor en gedaal… met ʼn enorme ligstert,” het een van die luisteraars aan die radiostasie 3AW gesê.
Sommige ooggetuies het die polisie geskakel uit vrees dat dit moontlik ʼn vliegtuig is wat neergestort het.
Kenners het egter gesê dit is ʼn versterkingsvuurpyl wat neergestort het ná ʼn Russiese Meteor-M #2 Dinsdag gelanseer is.
“Dit is bloot een deel van ʼn vuurpyl wat skouspelagtig oor Australië neergestort het,” het Brian Schmidt, ʼn professor van astronomie aan die Australiese Nasionale Universiteit, aan AFP gesê. Hy het gesê dit is waarskynlik eerder ruimterommel as ʼn meteoor, aangesien dit stadig deur die lug getrek het en ook nie met ʼn skerp hoek neergedaal het nie. “Dit is iets wat mens van ʼn voorwerp verwag wat om die aarde wentel.” Schmidt het in 2011 die Nobelprys vir Fisika met Amerikaanse navorsers gedeel. –SAPA-AFP
Net so goed kon dit van ander lande af gekom hoekom word net Rusland genoem?