Ineenstorting van Miami-gebou ondersoek

Die Champlain Towers South-gebou in Surfside het op 24 Junie 2021 in die vroeë oggendure gedeeltelik ineengestort. (Foto: Chandan Khanna/AFP)

Al hoe meer vrae word Maandag gevra oor hoe ʼn residensiële gebou in Miami in Florida in die VSA verlede week só vinnig inmekaar kon stort. Minstens nege mense is dood en meer as 150 word nog vermis. Desperate families vrees die ergste.

Kenners ondersoek die moontlikheid dat daar vroeër reeds kritieke foute was in die struktuur van die woonstelblok in Surfside, naby Miami Beach. Die gebou het Donderdagoggend vroeg inmekaargestort.

Reddingspanne is steeds besig om die puin te deursoek vir enige teken van lewe in die versengende hitte. Die hoop vervaag met elke uur wat verbygaan.

Stadsbeamptes het Vrydag ʼn Oktober 2018-verslag vrygestel wat vrese van “yslike strukturele skade” in die Champlain Towers South-kompleks onthul – van die betonblok onder die swembaddek tot die pilare en balke in die parkeerterrein. “Alhoewel van die skade gering is, moet meeste van die beton-agteruitgang so vinnig as moontlik herstel word,” het die konsultant, Frank Morabito, geskryf.

Herstelwerk sou binnekort begin aan die 40 jaar oue gebou, maar dit was te laat.

Kenners wat die beeldmateriaal hersien het, ondersoek nou die idee van “progressiewe ineenstorting” – waar ʼn aanvanklike fout, moontlik in die parkeerterrein of laer, gesneeubal het tot die tragedie.

“Dit wil voorkom of dit by of naby die onderkant van die struktuur begin het,” het Donald Dusenberry, ʼn konsulterende ingenieur wat al talle strukturele ineenstortings ondersoek het, aan die New York Times gesê. “Dit is nie asof daar ʼn fout bo was wat toe veroorsaak het dat die gebou inmekaarstort nie.”

Meer as 100 mense het die perseel Sondag in drie groepe besoek – oggend, middag en aand – vergesel deur Miami-polisie en personeel van die brandweer.

Ron DeSantis, goewerneur van Florida, het gesê puin met “forensiese waarde” word na ʼn groot pakhuis geneem waar ondersoekbeamptes sal probeer bepaal wat gebeur het.

“Tot dusver staan die dodetal steeds op nege,’ het Daniella Levine Cava, burgemeester van Miami-Dade County, Sondag aan verslaggewers gesê.

Ingenieurs en soek-en-reddingspesialiste van Israel en Mexiko het ook by die groot groep Amerikaanse werkers op die perseel aangesluit. Ses tot agt reddingspanne, ondersteun deur twee groot hyskrane en snuffelhonde, is deurgaans op die hoop rommel besig en op soek na nog slagoffers. ʼn Enorme sloot (38 x 6 x 12 m) is reeds deur die berg puin gegrawe, het Cava bygevoeg.

Charles Burkett, burgemeester van Surfside, het gesê akkommodasie word gereël vir enigiemand wat die toring se byna identiese “sustergebou” ʼn blok daarvandaan wil ontruim, alhoewel geen strukturele skade hier geïdentifiseer is nie.

“Ons het nie ʼn hulpbronne-probleem nie,” het Burkett aan ABC se “This Week” gesê. “Ons het ʼn probleem met geluk. Ons moet nou meer gelukkig word.”

Die 12 verdieping hoë gebou het ineengestort terwyl inwoners geslaap het. Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe die gebou in slegs ʼn paar sekondes inmekaar stort.

Jake Samuelson se ouma en oupa, Arnie en Myriam Notkin, is van diegene wat nog vermis word, alhoewel sy ma nog steeds telefoonoproepe van hul landlyn af ontvang, met slegs statika aan die ander kant, het die familie aan plaaslike media gesê. “Ons probeer rasionaliseer wat gebeur. Ons probeer antwoorde kry,” het Samuelson aan Local 10 News gesê. Hulle is nie seker of die oproepe sy grootouers is en of dit net ʼn meganiese fout is nie.

Pres. Joe Biden het Sondag gesê sy administrasie sal met plaaslike beamptes saamwerk en “is gereed om die nodige ondersteuning en bystand te lewer”. “Dit is ʼn ondenkbare moeilike tyd vir die families wat hierdie tragedie deurmaak,” het hy in ʼn verklaring gesê. “My innige meegevoel met elke enkele persoon wat in hierdie moeilike tyd ly.”

Talle lede van die plaaslike Joodse gemeenskap is deel van dié wat deur die tragedie geraak word. Israel het onderneem om die VSA met die soektog te help. Sowat die helfte van Surfside se bevolking is Joods.

Tot dusver is vier slagoffers deur die plaaslike polisie geïdentifiseer. Gladys en Antonio Lozano, onderskeidelik 79 en 83 jaar oud, die 54-jarige Stacie Fang, wie se 15-jarige seun Donderdag uit die puin gered is, en Manuel LaFont (54).

Minstens 18 Latyns-Amerikaanse burgers tel onder die vermistes, insluitend Uruguayane, Argentyne en Paraguayane. Kanada het ook gesê minstens vier van sy burgers word moontlik geraak, sonder om verdere besonderhede bekend te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

B-Man ·

Consulting engineer is ‘n raadgewende ingenieur in Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.