Inenting: Duisende het dalk net soutoplossing in Duitsland gekry

(Foto: Unsplash)

Owerhede in die noorde van Duitsland het meer as 8 000 mense gevra om weer Covid-19-inentings te kry omdat ʼn verpleegster hulle vermoedelik net met ʼn soutoplossing ingespuit het in plaas van entstof.

Die BBC berig die polisie stel ondersoek in na die verpleegster se optrede by ʼn inentingsentrum in Friesland, naby die Noordsee-kus.

Aanvanklik is daar vermoed dat slegs ses mense die skadelose soutoplossing in Maart en April ontvang het. Talle van die betrokke persone is ouer as 70, ʼn hoërisikogroep in die pandemie.

Die 40-jarige vrou het “korona-kritieke inligting” op sosiale media gedeel en die regering se beperkings veroordeel, het inspekteur Peter Beer aan die Süddeutsche Zeitung gesê.

Volgens die streeksuitsaaier NDR is 8 557 persone versoek om terug te kom vir ʼn inenting. Tot dusver is 3 600 nuwe afsprake bevestig.

Dieselfde verpleegster is in April ondersoek toe sy erken het dat sy die koronavirus-entstof omgeruil het vir ʼn soutoplossing in ses gevalle omdat sy dit wou verbloem dat sy ʼn buisflessie van BioNTech/Pfizer laat val het. Owerhede het in daardie stadium 200 mense gevra om dringend na vore te kom om getoets te word vir teenliggaampies om te bepaal watter ses mense nie die entstof ontvang het nie.

Dit is standaardpraktyk vir die BioNTech/Pfizer-entstof om met ʼn soutoplossing verdun te word voor dit toegedien word. Dit was die verpleegster se plig om die inentings voor te berei toe sy per ongeluk een van die botteltjies laat val het en die inhoud vermors het.

Sy het haar optrede aan ʼn kollega bely en die persoon het owerhede in kennis gestel.

Terwyl die polisie se ondersoek voortgeduur het, het dit egter aan die lig gekom dat baie meer mense die soutoplossing ontvang het in plaas van die entstof.

Die polisie sluit nie die moontlikheid uit dat die verpleegster se optrede polities gemotiveerd was nie. Haar prokureurs verwerp dié aantygings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hasie ·

Was dit Suid Afrika was daardie entstof nou op die mark onder die tafel deur verkoop ????

Grens ·

So het die vrou haar met fopnuus laat ore aansit, terwyl sy eerder haar werk moes gedoen het.

Dirk Mostert ·

So dis standaardpraktyk om die entstof te verdun deur ‘n persoon aan diens. Mmmm……..

Tanniepetoors ·

Die entstof self is dus ‘n “konsentraat” en moet verdun word om toegedien te kan word. Niks eienaardig of vreemd hieraan nie.

annie ·

…maar daar is baie spesifieke riglyne nl dat dieselfde persoon wat die verdunning doen ook die entstof moet toedien binne ‘n sekere tydvak bv ‘n halfuur en indien die tyd verstryk het die mengsel vernietig word. Nou praat die regering van smouswaentjies in buurtes wat afset sal bevorder. Sal dit klokkies hê soos roomyskarretjies? Hopelik darem ys.

Andreas ·

Op daardie manier het sy vragtig lewens en gesondheid van mense gered. Dit laat aan die vroedvroue onder die farao in egipte dink.

Jaco ·

En Duitsland het nie eens regstellende aksie nie. So ek SIDDER vir wat met die toediening van entstof im SA kan gebeur. Nog ‘n ding: WAT gebeur as ‘n regstellende aksie aangestelde eskom werker die verkeerde knoppie by Koeberg kernkragstasie druk???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.