Inentingsveldtog teen Ebolavirus begin

‘n Gesondheidswerker in Bikoro in die DRK. Foto: AP.

Gesondheidswerkers in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) het Maandag ʼn inentingsveldtog van stapel gestuur teen die dodelike Ebolavirus.

Jessica Ilunga, woordvoerder van die DRK se departement van gesondheid, het gesê 4 000 entstof-dosisse is Saterdag na Mbandaka gestuur. Dié stad is waar die eerste gevalle van Ebola in ʼn stedelike gebied verlede week aangemeld is sedert die jongste uitbreking van die siekte vroeër vandeesmaand aangekondig is.

Owerhede het die afgelope naweek bevestig dat die dodetal weens die uitbreking tot 26 mense gestyg het. Almal is in die Equateur-provinsie in die noordwestelike deel van die land dood.

In ʼn verklaring wat vroeg Sondag uitgereik is, het die departement van gesondheid gesê 46 gevalle van hemorragiese koors, waaronder 21 bevestigde gevalle van Ebola, 21 waarskynlike gevalle en vier vermoedelike gevalle, is aangemeld.
Die verspreiding van Ebola van landelike gebiede na Mbandaka, ʼn stad met ʼn bevolking van meer as 1 miljoen mense, is ʼn bron van kommer aangesien die siekte vinniger kan versprei in digbevolkte gebiede.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Vrydag gesê hy gaan nog nie die uitbreking as ʼn wêreldwye gesondheidskwessie bestempel nie, maar het wel die risiko vir verspreiding binne die Kongo as “baie hoog” bestempel en die land se nege buurlande gewaarsku dat die risiko vir hulle hoog is. Die WGO meen egter daar hoef nog nie beperkings op internasionale handel of reis toegepas te word nie.

Die entstof wat gebruik gaan word, is ʼn nuwe eksperimentele soort wat steeds in toetsfase is, maar wel doeltreffend was in die bekamping van die uitbreking in Wes-Afrika ʼn paar jaar gelede. ʼn Groot uitdaging gaan die deurgaanse verkoeling van die entstowwe wees in ʼn land waar infrastruktuur power is.

Dít is die Kongo se negende Ebola-uitbreking sedert 1976 toe die siekte vir die eerste keer geïdentifiseer is.
Die virus word aanvanklik van wilde diere soos vlermuise en ape na mense oorgedra via die aanraking van liggaamsvloeistowwe van diegene wat geïnfekteer is.

Daar bestaan tans geen spesifieke behandeling vir Ebola nie. Simptome sluit koors, naarheid, braking en spierpyn in en soms interne en eksterne bloeding. Die virus kan in tot 90% van die gevalle noodlottig wees, na gelang van die stam van die virus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.